La Niña klou vás

Uitsonderlik sterk, láát in die seisoen
Vroeë aanduidings is dat die Indiese Oseaan moontlik gunstige toestande gaan skep vir normale tot bonormale reënneerslae tydens die komende somerreënseisoen.
Elvira Hattingh
Dit is uitsonderlik vir die huidige La Niña om nog steeds sulke sterk waardes in hierdie laat stadium van die jaar te behou.

Boonop is daar vroeë aanduidings dat seeoppervlaktemperature in die Indiese Oseaan gunstige toestande vir normale tot bonormale reënneerslae tydens die komende reënseisoen sal skep – veral as dit sáám met nog ʼn La Niña kom. Dit is die mening van die konsultant-landbouweerkundige, Johan van den Berg – en dit stem ooreen met die jongste vooruitskouings van die Australiese Buro vir Meteorologie.

Van den Berg het in sy jongste weervooruitskouing op 26 April gesê na verwagting sal die vooruitsigte vir gebiede in Suider-Afrika, wat reën in die winter ontvang, vanaf Junie begin verbeter. Wat Namibië spesifiek betref, kan ligter reën voorts in die suidelike gebiede voorkom as gevolg van ʼn frontale stelsel wat bewolkte en koeler toestande kan veroorsaak. “Die begin van die ‘werklike winterreënseisoen’ word vanaf die einde van Mei verwag. Dit mag vereenselwig word met meer stormagtige toestande en selfs swaar sneeu in hoogliggende gebiede,” het Van den Berg gesê.

La Niña wyk nie

Die 2021-‘22 La Niña het steeds ‘n houvas oor die tropiese Stille Oseaan, met min verandering in sy sterkte oor die afgelope weke.

Die Australiese Buro vir Meteorologie het in hul jongste vooruitskouing op 10 Mei gesê verskeie La Niña-aanwysers, insluitende die seeoppervlaktemperatuur van die tropiese Stille Oseaan, wolkpatrone asook die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), het hul sterkte behou en in sommige gevalle selfs nóg sterker geraak. “Water onder die seeoppervlak in die tropiese Stille Oseaan het egter ietwat warmer geraak en handhaaf nou waardes nader aan neutrale Enso-toestande. Enso staan vir die El Niño- Suidelike Ossillasie-klimaatspatroon. Die meeste klimaatmodelle dui aan dat neutrale Enso-toestande vroeg in die winter sal terugkeer. Net een van sewe modelle voorspel dat La Niña-toestande dwarsdeur die winter sal voortduur,” het die buro gesê.

'n La Niña-weerverskynsel word dikwels met beter reënneerslae in Suider-Afrika vereenselwig, terwyl neutrale toestande nóg ‘n positiewe, nóg ‘n negatiewe invloed het. Die buro sê ook die Indiese Oseaan-dipool (IOD) is neutraal. Alle klimaatmodelle voorspel dat ʼn negatiewe IOD oor die komende maande kan ontwikkel.

Alhoewel IOD-voorspellings in hierdie tyd van die jaar gewoonlik nie baie akkuraat is nie, is dit tog beduidend dat al die modelle ooreenstem met dié voorspelling. ʼn Negatiewe IOD is ook positief vir reënneerslae in Suider-Afrika.