Speke sing vir begrip, geloof en liefde

Fietsry
Die organisasie Legacy of Love van Sybrand en Ronel de Beer durf weer die Nedbank Desert Dash aan.
Tielman Van Lill
Die spanning en opgewondenheid loop hoog vir die meer as 900 deelnemers aan die Nedbank Desert Dash-ultrabergfietsmarathon wat oor 397 kilometer strek en om 14:30 by die Grove-inkoopsentrum begin. Ryers moet dié 397 km binne 24 uur oor die Kupferbergpas, Khomas Hochlandberge en die Namibwoestyn aflê om ’n medalje te ontvang. Vir sommige is dit redelik maklik, terwyl dit vir ander in ’n vreesaanjaende ervaring kan ontaard om die stophorlosie te klop. Die organisasie Legacy of Love van Ronel en Sybrand de Beer het ’n gemengde-vierryerspan saamgestel wat opnuut ’n positiewe boodskap van begrip, geloof en liefde wil uitstuur. Legacy of Love neem al sedert 2018 aan die Nedbank Desert Dash deel. Die De Beers het Legacy of Love in 2017 op die been gebring nadat Lumé, hulle oudste dogter, op 11-jarige ouderdom oornag tragies aan respiratoriese noodsindroom gesterf het. Die Legacy of Love-trust bestuur tans vier projekte, naamlik Acts of Love, Legacy Sport, Legacy Retreats en Legacy Merchandise. Legacy Sport gebruik onder meer die grondslag van fietsry, draf en gholf as eerbetoon aan bedroefde ouers, om bewustheid te skep oor hoe om gesinne te ondersteun wat iemand aan die dood afgestaan het, en om ’n inkomste te genereer om dié projekte te ondersteun. Ronel het gesê: “Die Dash is ’n reusebyeenkoms om ons boodskap uit te dra. Lumé se ongelooflike liefde vir mense, die lewe en haar briefies in haar joernaal het ons aangespoor om ons storie te vertel en ander ouers wat in dieselfde bootjie is, te help. Ons wil troos, inspireer en help om te genees. Dit is ook ’n geleentheid om diegene te ondersteun wat met seerkry en trauma worstel, terwyl ons die reis deur die woestyn op ’n fiets opdra aan diegene wat geliefdes verloor het. Die Dash is ook een van ons min hoofgeleenthede vir geldinsameling om voorsiening te maak vir die volgende jaar se uitgawes en vir ons projekte om voort te gaan. “Dit is ook ’n uitdaging om die projekte te bestuur. Tans maak ons op vrywilligers staat. Hulle help hoofsaaklik met reëlings en op die dag van die byeenkoms. “In hierdie stadium dra ek die las alleen. Sybrand ondersteun my op ’n deeltydse basis. Een persoon kan net ’n beperkte aantal dinge doen. Legacy of Love is ook dankbaar vir die ondersteuning wat die organisasie van Nedbank ontvang het. "Die ondersteuning wat ons van hulle kry, is ongelooflik waardevol. Nedbank het Legacy of Love nog elke jaar met twee geborgde spanne bygestaan en het deur die jaar met skenkings by kleiner geleenthede gehelp. Ons sien hulle as deel van die familie met ons Nedbank Desert Dash-projek, en hoop dat ons in die jare wat voorlê, selfs ’n groter rol in die Dash kan speel.” Johan Fourie, ‘n lid van die Legacy of Love-span, het al ’n paar keer die Dash gery. Hy sê om vir liefdadigheid te ry, is ‘n eiesoortige ervaring. “Om dit vir iemand te kan doen – al is die ondersteuning meer geestelik as fisiek – is steeds ’n wonderlike voorreg. Ons verstaan nie altyd waardeur mense gaan nie,” het Fourie gesê. Selma Kaulinge, kommunikasiebestuurder van Nedbank, sê die Nedbank Desert Dash het oor die jare gegroei en is nou meer as net ’n sportgeleentheid. “Elke jaar wanneer die Dash aangebied word, sien ons nie net die groot ekonomiese waarde wat dit in die land inbring nie, maar ook ’n toename in liefdadigheidsorganisasies wat die Dash vir ’n goeie doel ry. Ons doel by Nedbank is om kenners op die gebied van finansies te wees, wat goed is vir ons personeel, kliënte en gemeenskappe. Daarom is dit ’n voor die hand liggende verpligting vir ons om ’n aantal liefdadigheidsorganisasies te help wat aan die Dash wil deelneem,” het Kaulinge verduidelik. Nedbank het meer as 35 jaar gelede die eerste keer in fietsry in Namibië begin belê. Sedert dié borg agt jaar gelede as titelborg oorgeneem het, het hulle meer as N$8 miljoen in die Nedbank Desert Dash ingestort. Die Dash word ook deur Hollard, Indongo Toyota, Maerua Superspar en Trek ondersteun. Die soloryers spring eerste weg (14:30), gevolg deur die tweeryerspanne (15:00) en die vierryerspanne (15:30). Die afsnytye vir die onderskeie afdelings is dieselfde soos die ryers in Windhoek weggetrek het. Die prysuitdeling word in drie afdelings behartig: 12:00: Die wenners van die tweeman-, vierman- asook gemengde tweeryer- en vierryerspanne. 14:00: Die wenners van die tweevrou- en viervrouspanne. 16:30: Solowenners en soloryers wat die wedren binne 24 uur voltooi het. [email protected]