Kudus slag gereed vir semi-finale wedstryde

Otis Daniels
Kom reen, kom wind Jan Wilken is waar jy Saterdag moet wees in Walvisbaai.

Die lang verwagte Namibiese Rugby Unie (NRU) semi-finale het aangebreek en die FNB Kudu spanne het twee harde neute wat gekraak moet word, sou hul wil deurdring na die eindstryde.

Die Kudu reserwe liga span reis na Rehoboth om teen FNB Rehoboth te gaan kragte meet met die Kudu permier liga span wat gaan tuisvoordeel geniet teen FNB Unam.

Dit is môre ‘n saak van reg of weg vir die twee kus spanne.

Om vir Rehoboth in Rehoboth te wen is altyd moeilik en môre gaan daar geen verskil wees nie. Net soos Kudus se ondersteuners staan Rehoboth se skare ook bankvas agter hul span.

Alhoewel die Kudu reserwe span in die uitspeel rondtes gewen het is die semi-finale ‘n heel ander storie.

Afrigter, Gawan Esterhuizen, het ‘n goed gebalanseerde span gekies. Die verwagting is dat die grondslag eers voor gelê word sodat die blitsige agterlyn kan afrond.

Algernon Kolz en Alexander Jansen is die twee spelers wat net net uitgemis het op seleksie maar is gereed sou iets noodgedwonge opduik.

Kudus se sterkpunt is hul pak voorspelers en mens sal graag meer dryfmaal bewegings wil sien.

Daar word ‘n klipharde stryd verwag want die Kudus reserwe liga span gaan egter Rehoboth toe om as huidige kampioene hul stryd na ‘n tweede titel lewend te hou.

Op Jan Wilken Stadion is dit waar die poppe behoorlik gaan dans wanneer die Kudu en Unam se permier liga spanne mekaar gaan opkeil.

Unam kon nog nie die jaar daarin slaag om vir Kudus te klop nie en sal bitter graag môre wil wen. Hulle is tans op topvorm en volsterkte.

Aan Kudus se kant het die beserings spook die laaste drie wedstryde sake bietjie deurmekaar gekrap maar almal is weer op hul pos en ook Kudus is vir môre op volsterkte.

Die span wat die botoon gaan voer voor se kanse om na 80 minute as wenners af te stap is soveel beter. Harde werk onder moeilike omstandighede is deur die afrigters ingesit en hul opoffering deur die jaar kan nie misgekyk word nie.

Harde inklimspel is môre te verwagte met die manne wat mekaar met mening gaan aanvat.

Die stryd om die losbal gaan ook deuslaggewend wees met albei spanne wat beskik oor ‘n puik lostrio. Die vaste vyf van Kudus is gedug en sal sonder twyfel môre weer hul stempel afdruk.

Agterlangs wemel dit van talent aan albei kante. Unam spog met Delron Brandt, Lorenzo Louis, Darryl Welmann en Camlo Martin. Die manne is altyd ‘n handvol vir enige span.

Kudus het egter vir Percy, Aurelio, Chad, Lloyd, Paulo asook PJ en Justin wat vir Unam lelik kan opdraand gee.

Die FNB Kudu Rugby Klub nooi sy lojale ondersteuners uit om die span op Jan Wilken stadion, te kom ondersteun. Hekgeld is N$ 30 per volwassene N$20 vir kinders, N$ 30 per motor en N$ 50 per coolerbox. Geen Hookah pype sal toegelaat word nie en streng sekuriteit wat toegepas sal word.