Geen keer aan dié para-atleet

Bradley ’n rolmodel vir almal
Die 20-jarige para-atleet Bradley Murere se positiewe gesindheid en onblusbare toewyding is vir talle 'n inspirasie.
Iréne-Mari van der Walt
Toe Bradley Murere (20) in sy laerskooljare sy regterarm in ’n motorongeluk verloor het, het dit vir hom gevoel asof hy nooit weer ’n normale lewe sou lei nie.

Hy sê sy tannie Petronelle Uiras het hom gedruk om nie toe te laat dat enigiets, nie eens sy eie lyf, hom terughou nie.

“Ná die ongeluk wou ek niks doen nie, maar my tannie het my gedwing om steeds huistake te doen en so het ek geleer om skottelgoed met een arm te was. Aan die begin was dit moeilik, maar dit het later makliker geword,” het Bradley gesê.

Hy sê sy tannie is ook die rede dat hy sokker vir atletiek verruil het.

“Sy kon my laat verstaan dat atletiek beter vir my sou wees as sokker,” het hy gesê.

Bradley is op Tsumeb gebore, maar is in Swakopmund getoë, waar hy ook gematrikuleer het.

Hy het tydens sy primêre skooljare atletiek begin doen, maar het nie veel daarvan gedink nie.

“Ek het elke jaar aan die skool se atletiek deelgeneem omdat hulle my gevra het.”

Bradley het ’n T-46 arm-amputasie, wat beteken dat hy teen atlete deelneem wat ’n amputasie bo of onder hul elmboog op een arm het

Hy maak tans opslae in para-atletiek in die 100 meter en 200 meter.

Ulla Finkeldey, Bradley se afrigter, sê dit is juis sy denkwyse wat hom bo ander atlete laat uitstaan.

“Ek dink wat Bradley uniek maak, is sy toewyding teenoor die sport. Hy is lojaal teenoor homself en hy kla nie. As jy vir hom sê spring, sê hy net ja. En dit is nie dat hy net ingee nie; dit is juis omdat hy besef wat goed is vir hom.

“’n Atleet op Bradley se vlak kan maklik sê hy is moeg, maar hy maak geen verskonings nie. Al is hy die enigste een wat vir oefening opdaag, sal hy dit doen,” het Ulla gesê.

Bradley sê dit is sy geloof en sy naastes wat hom moed gee wanneer hy moedeloos raak.

Volgens Ulla is Bradley op sy stil en sagte manier ’n rolmodel vir sy mede-atlete.

“Hy is beslis ’n rolmodel vir ander atlete. Baie atlete wat ’n sekere vlak bereik, kry ’n ‘ja maar’-houding. Bradley weet nie van ‘maar’ nie. Hy is baie nederig. Hy is glad nie die tipe mens wat sal spog met dit wat hy bereik het nie. Bradley het ’n sagte geaardheid en hy is altyd gelukkig; hy is nooit in ’n slegte bui nie. Hy is altyd tevrede met waar hy is en is nooit arrogant nie. Hy het ook altyd goeie maniere. Daar is deesdae baie min atlete soos Bradley,” het sy gesê.

Die status van rolmodel is ’n eer vir Bradley: “Ek dink daardie titel kom met baie verantwoordelikheid, maar om vir ander ’n inspirasie te kan wees, gee my die krag wat ek nodig het om daagliks aan te gaan."

Ulla onthou haar eerste ontmoeting met Bradley ongeveer 7 jaar gelede, toe hy geen oefenprogram of afrigter gehad het nie.

“Hy het soms gekyk hoe ek by die stadion oefen. Hy het later in Walvisbaai begin oefen, soms het hy by my geoefen, soms alleen en soms het hy by my atletiekgroep aangesluit. Ek het hom gevra om saam met my te oefen en hy het gesê dat ek te intens is. ’n Jaar of twee het verbygegaan voor hy my genader en gevra het om saam met my te oefen.”

Sy sê haar eerste besluit as Bradley se afrigter het die jong en uiters suksesvolle Bradley verstom.

“Hy het sonder ’n afrigter of ’n program sy eerste suksesse oorsee behaal, maar hy was te jonk vir kompetisies, dus moes ek hom onttrek. Ek het gesê as hy sy piek op 16 bereik, gaan hy teen 20 pootuit wees. Ons het toe vir twee jaar ’n lae profiel gehou. Ek dink hy het begin agterkom dat daar wel iets in my denkwyse steek. "

Bradley is nou gretiger as ooit om die wêreldverhoog te betree met planne om Namibië by die Afrika Paralimpiese kampioenskappe te verteenwoordig voor hy in 2024 die landsvlag by die Paralimpiese Spele sal laat wapper, sê Ulla.

Sy sê die ondersteuning wat Bradley van die Namibiese Nasionale Paralimpiese Komitee (NNPC) ontvang, het gehelp dat hy vir die Afrika-kampioenskappe kwalifiseer, maar dat ’n gebrek aan finansiering tans para-atlete in Namibië se kanse op die wêreldverhoog belemmer.

“In Bradley se geval beteken dit dat ons ander manier moet vind vir hom om aan internasionale kompetisies te kan deelneem. Hy sal nog aan twee kompetisies moet deelneem om ten volle gereed vir die Afrika-kampioenskappe te wees, maar dié kompetisies is almal oorsee. Die NNPC sal waarskynlik nie vir Bradley stuur nie aangesien hy reeds gekwalifiseer het. Hulle sal natuurlik liewer ander atlete stuur om aan daardie kompetisies deel te neem sodat hulle ook kan kwalifiseer.”

“Alhoewel para-sport redelik klein in Namibië is, kry ons nog genoeg geleenthede om vir die groter kompetisies te kan kwalifiseer,” sluit Bradley af.

[email protected]