Eerste Para-spanne maak Dash-geskiedenis

Sport vir gestremdes
Twee spanne (siggestremdes en fisiek gestremdes) takel die komende ultra-uitdaging vir bergfietsryers.
By die snel naderende 2022-weergawe van die Nedbank Desert Dash sal vir die eerste keer ’n groepie para-fietsryers deelneem aan die ikoniese 24-uur-wedren oor 397 kilometer deur die Namibwoestyn.

Die Run Along-stigting in samewerking met die Namibië Paralimpiese Komitee (NPC), met die steun van Nedbank Namibië, het ’n span van vier handfietsryers asook ’n span van vier gesiggestremde ryers ingeskryf.

Die moedige atlete, gebaseer in die noordedorp Ongwediva, oefen saam en sien uit na die rit op Vrydag en Saterdag 9 en 10 Desember, vanaf Grove Mall in Windhoek tot by Swakopmund se Platz Am Meer.

Die Paralimpiese handfietsryspan bestaan uit Roodley Gowaseb, Nico Kharuxab, Modestu Lipuleni en Gabriel Nghiishililwa. In geval van ’n onttrekking sal Lucas Ndahangwapo as plaasvervanger aansluit.

Die Paralimpiese siggestremde span is Mateus Kambudu, Sem Shikondjele, Fillemon Lotto en George Nehwaya, wat elkeen op ’n tandemfiets saam met Stevenson Hamukoto, Robert Nambambi, David Haluteni en Naftal Paulus as hul gidse ry om hulle te help om die roete te navigeer.

Tandemfietse is gewoonlik swaarder en die duo se ritme moet ook gesinkroniseer bly, wat nooit maklik is nie.

Roodley Gowaseb, die spankaptein, sê hul oefeninge verloop goed, maar geestelik is nog nie almal gereed vir die uitdaging nie. Hy is deeglik bewus dit gaan ’n moeilike rit wees, maar hulle berei daarop voor.

“Fisiek reken ek die ouens kan dit doen, aangesien die wedren in vier skofte verdeel is, maar ons werk nou aan die geestelike voorbereiding, want dit sal ons eerste deelname met handfietse wees,” het hy gesê.

Die stigter van die Run Along-stigting, Jean-Paul Schmidt, sê die para-fietsryers sien uit om in hul eerste verskyning by die Nedbank Desert Dash die wêreld te wys dat hulle hul doelwitte en drome kan bereik.

“Die gesiggestremde span bestaan uit agt ryers van wie vier siggestremdes is, en die ander vier as hul gidse. Die span berei reeds die afgelope vier maande voor en is tans in ’n oefenfase met hoë kilometertellings,” het hy gesê.

Schmidt sê hul oefensessies verloop goed en die atlete sal oor twee weke Windhoek toe reis vir verdere oefenlopies en om gewoond te raak aan die terrein.

“Wat ’n mens moet besef, is dat hierdie fietse geen modifikasies het soos e-fietse wat ’n ryer help nie. Ons fietse vereis dat ’n ryer energie inspan net soos enige fiets, so dit sal baie moeilik wees vir die ryers, veral tydens skofte 2 tot 5, maar al die handfietsryers en gesiggestremde ryers sal hul allerbeste gee,” sê hy.

Selma Kaulinge, bestuurder van Nedbank Namibië se kommunikasie- en skakelafdelling, het die groepie geloof vir hul vasbeslote werk sover ter voorbereiding op die Desert Dash.

“Ek het video’s op sosiale media gesien van die span se oefenprogrm. Ek is so trots om te sien hoe ons land se eie para-fietsryers alle verwagtinge oortref en een van die grootste fietsrenne ter wêreld aandurf. By Nedbank Namibië verstaan ons die belangrikheid van diversiteit en insluiting, en ons is opgewonde om te sien dat meer diverse spanne die uitdaging van die Nedbank Desert Dash aanpak,” sê sy.

Kaulinge sê ander para-fietsryspanne wat belangstel om aan die Nedbank Desert Dash deel te neem, se inskrywing in latere weergawes sal verwelkom word.

“Een aspek van hierdie wedren wat ons selde noem, is hoe ’n kameraadskap tussen fietsryers op die roete gevorm word. Ons het gesien hoe fietsryers mekaar help om oor steil bulte te ry, in groepe saamry en ongelooflike spangees toon. Dis wat alle spanne kan verwag wanneer hulle aan die wedloop deelneem. Dis voorwaar ’n onvergeetlike ervaring.”

Vir vanjaar se Nedbank Desert Dash is meer as 900 fietsryers geregistreer vir hetsy die solo-resies (mans en vroue), of die mans-, vroue- of gemengde spanne van twee of vier lede.