Verslawing: Namibië moet nog 'n lang pad stap

Hoewel Namibië prysenswaardige stappe geneem het in die stryd teen verslawing, is daar glo steeds baie ruimte vir verbetering.
Iréne-Mari van der Walt
Na 'n ingewikkelde stryd met verslawing, hoop Adam Labuschagne om sy 'lewenservaring' tot die voordeel van ander verslaafdes te gebruik.

Labuschagne het sy loopbaan as verslawingspraktisyn begin na hy tydens sy 'aktiewe verslawing' daarvan gedroom het om ander met dieselfde probleem te help.

"Tydens 'n deel van my aktiewe verslawing het ek by myself begin dink dat as ek ooit hieruit kom, wil ek ander help," sê hy.

Na sy herstel van aktiewe verslawing kon Labuschagne verskeie kortvormkwalifikasies omskep in 'n graad wat hom in staat gestel het om as 'n verslawingberader te begin werk. Tans is hy 'n geregistreerde maatskaplike werker met 'n nagraadse kwalifikasie in verslawingsorg.

Dit, saam met sy 'lewenservaring', onderskei Labuschagne as 'n verslawingherstelpraktisyn.

"Lewenservaring is 'n term wat in die eerste wêreld gebruik word, as 'n mens dit so kan noem, wat tyd as 'n aktiewe verslaafde as ervaring tel," verduidelik hy.

Labuschagne het sowat 20 jaar se ondervinding agter sy naam en glo dat verslawing in die korporatiewe sektor dikwels ongemerk gaan.

“Die korporatiewe sektor is dikwels die funksionele verslaafdes omdat hul verslawing agter 'n leefstyl kan skuil. Hulle leefstyl dui nie op verslawing nie, want hulle is in staat om verslawing beter te ondersteun,” sê hy.

LANG PAD

"Namibië het tot dusvêr goeie werk gedoen, maar moet nog 'n lang pad stap. Ons verstandhouding van verslawing skort - 'n groot deel van die populasie voel dat verslawing 'n keuse is en dat dit maklik is om te stop," het Labuschagne aangevoer.

Volgens hom is een van die eerste stappe wat Namibië moet neem in die rigting van gekwalifiseerde verslawingspractici. "Ons het 'n ent om te gaan om ons huidige practici tot gekwalifiseerde verslawingspraktisyns te ontwikkel deur beurse aan te bied waardeur hulle kwalifikasies in die veld kan kry," het hy gesê.

Hy het ook aangevoer dat die benadering tot die behandeling van verslwaing in Namibië nog kan verbeter. "Namibië sal baie meer moet doen in terme van bewusmaking en wat verslawing veroorsaak om dit van daardie invalshoek te behandel as ons wil resultate sien," het hy gesê.

Hy glo dat die rol van trauma in verslawing verstaan moet word as Namibië sy dwelmprobleem wil takel. " 'n Goeie benadering is om te verstaan dat trauma 'n geweldige rol speel in die vorming van verslawing en dus sal ons 'n trauma in ag moet neem wanneer ons verslawing benader," het hy gesê.

STIGMA

Labuschagne sê daar word nie net 'n stigma van nie-gebruikers op dwelmgebruikers afgedwing nie, maar ook onder dwelmverslaafdes.

"Ek vind wel dat daar 'n stigma tussen dwelms is, soos die idee dat 'n sekere tipe dwelm deur 'n sekere tipe persoon gebruik word," sê hy.

"Mense sal oor die algemeent alles gebruik wat tot hul beskikking is, so dit hang af van waar hierdie persoon hulself in die lewe bevind," voeg hy by.

Hy merk egter op dat individue verskillende middels vir verskillende doeleindes kan gebruik. "Mense wat die behoefte voel om te behoort, sal dikwels opkikkermiddels gebruik, terwyl diegene wat hul gevoelens wil stilmaak gewoonlik na opioïededwelms sal beweeg," sê hy.

Labuschagne verduidelik dwelmgebruikers om hulself met die volgende vier vrae uit te daag:

• ‘Het ek al daaraan gedink om my inname te stop of te verminder?’

• ‘Word ek ontsteld oor die wanneer my gebruik van die middel genoem word?’

• 'Voel ek skuldig oor die gebruik van 'n sekere middel?'

• ‘Ervaar ek onttrekkingsimptome as ek te lank sonder hierdie middel gaan?’

Hy glo dat gewoontes die moeite werd is om te ondersoek as 'n individu 'ja' antwoord op twee of meer van die bogenoemde vrae.