Tans 26 in staat se GBV-skuilings
Tekort aan personeel lei tot operasionele beperkings
Doreen Sioka het gesê die ministerie is aktief betrokke by inisiatiewe wat ten doel het om personeelkwessies op te los en die skuilings weer tot volle werking te herstel.
Aan die begin van dié week was daar 26 mense in skuilings vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GBV) in die land.Dié skuilings in staatsbesit staar tans verskeie uitdagings in die gesig.
Doreen Sioka, die minister in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, het gesê teen vandeesweek Dinsdag het hierdie skuilings 12 volwassenes en 14 kinders gehuisves en aan hulle ’n veilige hawe gebied teen die uitdagings wat hulle moet verduur.
Sioka het dit gesê in reaksie op vrae wat in die parlement gestel is oor die werksaamhede van GBV-skuilings in staatsbesit. Sy het gesê onlangse verslae het aangedui dat hierdie skuilings aansienlike uitdagings in die gesig staar as gevolg van ’n tekort aan personeel – wat operasionele beperkings tot gevolg het.
Sy het bygevoeg die syfers toon hoewel daar operasionele uitdagings is, bied die skuilings steeds ondersteuning aan slagoffers onder die sorg en toesig van maatskaplike werkers. “Dit is noodsaaklik om daarvan kennis te neem dat hierdie getalle individue uitsluit wat geakkommodeer word in die twee private skuilings wat deur die regering gesubsidieer word.”
Sioka het gesê hierdie private skuilings lewer ’n aansienlike bydrae tot hul voortgesette pogings om GBV-slagoffers te ondersteun. Sy het verder gesê die ministerie bly verbind tot sy mandaat en verantwoordelikheid in dié verband. “Terwyl die bedryfstatus van die skuilings ’n dringende bekommernis is, is dit van kardinale belang om te verstaan dat ’n enkele uitdaging nie die ministerie se breër verantwoordelikheid en sy onwrikbare toewyding tot die welstand van ons nasie moet oorskadu nie.”
Sioka het gesê om die kwessie van GBV te takel is ’n veelvlakkige, langtermyn-taak en het bygevoeg dat die ministerie aktief betrokke is by inisiatiewe wat ten doel het om personeelkwessies op te los en die skuilings in staatsbesit weer tot volle werking te herstel. “Ons is vasbeslote om die nodige sorg en ondersteuning aan GBV-oorlewendes te bied.”
Sy het gesê hulle sal hierdie uitdagings met onwrikbare vasberadenheid aanpak. Volgens haar is die veiligheid en welsyn van burgers uiters belangrik en die ministerie is ten volle daartoe verbind om te verseker dat GBV-skuilings as veilige hawens teen hierdie bedreiging staan.
Sioka het gesê die regering gaan voort om hand aan hand met die private sektor en nieregeringsorganisasies te werk. Sy het verder gesê die regering subsidieer altesaam 18 residensiële kindersorgfasiliteite oor agt streke teen ’n jaarlikse bedrag van N$2 miljoen. “Die ministerie plaas kinders wat sorg en beskerming nodig het in hierdie fasiliteite deur hofbevele vir sorg en beskerming. Hierdie fasiliteite speel ’n belangrike rol daarin om kwesbare kinders se welstand te verseker.
[email protected]
Comments
Erongo
No comments have been left on this article