Klimaat: Afrika-kinders die grootste slagoffers

Namibië een van nege Afrikalande wat geraak word
Minstens 11 miljoen kinders oraloor Afrika staar voedselonsekerheid weens uiterste weerstoestande in die gesig.
Henriette Lamprecht
Namibië is een van nege Afrikalande wat die tuiste van 11 miljoen mense, insluitend kinders, is wat voedselonsekerheid weens droogte en vloede ervaar.

Die ander lande sluit Angola, Eswatini, Lesotho, Madagaskar, Malawi, Mosambiek, Zambië en Zimbabwe in. Byna 500 miljoen kinders in Afrika suid van die Sahara loop die risiko van die ergste impak van klimaatsverandering, met ten minste 11 miljoen kinders oraloor die vasteland wat voedselonsekerheid weens uiterste weerstoestande ingesluit droogte en vloede in die gesig staar.

Volgens onlangse ontledings is 35 van die 45 lande wat wêreldwyd die hoogste risiko vir klimaatrisiko loop, in Afrika suid van die Sahara en sluit Tsjaad, die Sentrale Afrika Republiek, Somalië, Eritrea en die Demokratiese Republiek die Kongo in.

Teen 2050 sal Afrika die tuiste van een miljard kinders en jongmense wees wat gegewe die regte kanse in hul lewens, die vasteland se maatskaplike en ekonomiese herlewing kan dryf, sê me. Graça Machel, voorsitter van die Afrika Kinderbeleidsforum (ACPF).

Volgens Machel staar hulle egter ’n toekoms van verminderde werksgeleenthede, produktiwiteit en groei weens die ekonomiese impak van klimaatsverandering in die gesig.

Sy was een van meer as 200 kenners in kinderregte, burgerlike organisasies, akademici en hooggeplaaste beamptes van die Verenigde Nasies (UN) en die Afrika-unie (AU) wat vandeesweek in Addis Abeba in Ethiopië vergader het om die toenemende uitwerking van klimaatsverandering op die Afrikakind te bespreek.

Volgens die VN se Interregeringspaneel vir klimaatsverandering (IPPC) sal verhoogde temperature wanvoeding onder kinders in westelike Afrika met 37% en in Sentraal-Afrika met 24% teen 2100 verhoog.

“Kinders en jong mense in Afrika staar ’n dubbele risiko weens klimaatsverandering in die gesig,” sê Machel.

“Hulle staar meer vloede, droogtes en watertekorte in die gesig, terwyl belegging in noodsaaklike dienste vir kinders gebruik word om by die klimaat aan te pas. Kinders en jongmense in Afrika dra nou die las van klimaatsverandering en gaan voortgaan om dit in die komende dekades te doen.”

Dr. Joan Nyanyuki, uitvoerende direkteur van die ACPF, was dit eens die reeds swaar las van wanvoeding en siekte onder kinders op die vasteland word aangevuur deur droogte, armoede, hoë kospryse, verskuiwing en die uitbreking van plae wat alles verbind word met uiterste weerstoestande.

“Klimaatsverandering het ’n negatiewe impak op die oorlewingskoers, ontwikkeling, groei en geestesgesondheid van kinders in Afrika. Meisies en jong vroue is veral kwesbaar. Die meerderheid van kinders bly in families en gemeenskappe wat min weerstand het om te reageer op en aan te pas by klimaatsverwante noodgevalle,” het sy gesê.

Volgens haar lei uiterste weerstoestande en stygende temperature tot ’n direkte invloed op kinders soos verhoogde armoede, kinderarbeid, ernstige wanvoeding, ’n gebrek aan toegang tot skoon water, gesondheids- en sanitasiegeriewe, kinderhuwelike en kinders wat skool verlaat.

“Afrika-regerings moet dringend hul finansiële belegging en ekonomiese beleidsrigtings verskerp om die uitwerking van klimaatsverandering op sy jong bevolking te voorkom en te hanteer.”

Nyanyuki sê voorts die helfte van die vasteland se bevolking is onder die ouderdom van 20 en is die grootste slagoffers van die langtermyn impak van verhoogde armoede, gebrek aan belegging en onvoldoende infrastruktuur.

“Die klimaatskrisis is ’n reuse-kinderregtekrisis in Afrika en kan die vooruitgang uitwis wat tot dusver gemaak is.”

[email protected]