Afrika ver agter met sanitasie, water

Einddatum vir SDG 6-doelwitte naby
Calle Schlettwein sê Afrika ervaar talle uitdagings om sy doelwitte te behaal, wat insluit 'n erge klimaatsveranderingkrisis, 'n skuldkrisis asook politieke onrus.
Elvira Hattingh
Afrikalande benodig beleggings van tot US$30 miljard teen 2030 om finansieringstekorte in die vasteland se water-, sanitasie- en higiëne-sektor aan te vul.

Die groot agterstand om onder meer die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte 6 (SDG 6) te behaal, laat ook vrese ontstaan dat dit Agenda 2030 sal kniehalter.

Daarbenewens het die tekortkominge negatiewe gevolge vir Afrika se gesondheidsorgstelsels en ekonomiese beplanning, wat openbare gesondheidsnoodgevalle veroorsaak en wat voorkom sou kon word, sou sanitasie aan die nodige vereistes voldoen.

Dit is een van die punte wat vervat is in die AfricanSan7-verklaring, wat opgetrek is ná die Sewende Konferensie vir Sanitasie en Higiëne vir Afrika wat verlede week op Swakopmund plaasgevind het.

Dit volg nadat Afrika-ministers verlede week ’n raadsvergadering oor water op Swakopmund gehou het. Dit het tydens die Sewende Konferensie vir Sanitasie en Higiëne vir Afrika plaasgevind, met die Afrika Waterfasiliteit (AWF) se raadsvergadering wat ook tydens die geleentheid gehou is.

Namibië se minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, het tydens die geleenthede die openingsredes gelewer.

Afgevaardigdes het tydens die konferensie, wat vanaf 6 tot 11 November plaasgevind het, hul kommer uitgespreek dat so min Afrikane voldoende toegang tot veilig bestuurde sanitasie en basiese higiëniese dienste het.

Doelwitte

Terselfdertyd is daar opnuut onderneem om met erns te fokus op onder meer die SDG 6 as dit by water en sanitasie kom, asook die 2015 N’gor-verklaring oor sanitasie en higiëne en die 2021 Windhoek Multibelangegroep Resolusies vir die bespoediging van watersekuriteit en toegang tot veilig bestuurde sanitasie en higiëne in Afrika.

Dit kom terwyl die einddatum vir die SDG 6 naby is, waarvolgens 400 miljoen mense op die vasteland teen 2030 toegang tot veilige drinkwater moet hê en sanitasie aan nog 800 miljoen mense verskaf moet word, terwyl waterbesoedeling teen alle koste voorkom moet word, het Schlettwein gesê.

“Daar moet aan die ontwikkelingsplanne voldoen word, terwyl ons ’n erge klimaatsveranderingkrisis beleef wat eksistensiële krisisse inhou vir lewens, lewensbestaan en die wêreldwye biodiversiteit,” het hy gesê.

“Tweedens ervaar Afrika ’n finansiële krisis met onvolhoubare skuldvlakke en hoë wisselkoerse, terwyl inflasie en die bewapening van finansiële wette ongelykheid aanvuur en die vooruitsigte van ons ontwikkelende ekonomieë bemoeilik. Boonop ervaar ons politieke krisisse, waar oorloë en politieke stabiliteit voorkom.”

[email protected]