Swakop-ollie nou ‘n ‘ouboet’

Floreer in wildreservaat
Apollo, wat bykans sterstatus plaaslik, maar ook in die buiteland behaal het met sy seevakansie, floreer nou in die Zannier-wildreservaat.
Elvira Hattingh
Dit gaan goed met die sogenaamde “Swakop-ollie”, Apollo, wat sowat twee jaar gelede op Oukersaand vakansiegangers teen die kus verras het en nou reeds twee jaar lank op N/a’an ku sê se Zannier-wildreservaat woon.

Hy het intussen die reservaat van 7 500 hektaar “veilig” bewandel en ‘n “ouer broer” vir twee jonger olifantbulletjies Ace en Astro geword, skryf N/a’an ku sê in hul jongste nuusbrief.

Die olifant, volgens N/a’an ku sê moontlik een van Namibië se bekendstes, het wêreldnuus gehaal toe sy seevakansie sowat twee jaar gelede kortgeknip en hy na die Zannier-wildreservaat, sowat 45 km oos van Windhoek, verskuif is.

“Die welstand van die individuele dier bly ‘n topprioriteit en die vreedsame, niedodelike oplossings van mens-dier-konflik, bly een van ons sleuteldoelwitte,” sê N/a’an ku sê.

Agtergrond

Die grootvoet, wat aanvanklik sowat drie jaar eers by AfriCat se Okonjima Lodge naby Otjiwarongo gaan kuier het, het vakansiegangers op Oukersdag in 2019 met sy teenwoordigheid op Swakopmund verras. Hy is toe met water en voer na die binneland teruggelok en is voortdurend gemonitor.

Die olifant het tot by Klein Spitzkoppe in die binneland gestap, daarná teruggeswenk kus toe en homself uiteindelik in die Omarururivier gaan tuismaak. Hier is hy deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme verdoof en met ’n nekband toegerus. Die hoop was dat hy hom hier sou vestig – ‘n oase in die woestyn.

Hy het egter maande later besluit om hom by die Rössmund-gholfklub tuis te maak. Hier het hy skade aan eiendom aangerig en kommer het ontstaan dat hy mense sou seermaak. Die olifant het elke dag in die Swakoprivier af na die dorp geloop en was gereeld naby die stalle van die Swakopmund Reiterverein (RVS) opgemerk. Hy is toe as ‘n probleemdier verklaar, wat beteken hy moes óf van kant gemaak word, óf verskuif word.

Die ministerie wou die rondloperbul aanvanklik na die Erindi Private Wildreservaat naby Omaruru verskuif, maar het later besluit om hom met ’n nekband toe te rus.

Hy is eindelik by N/a’an ku sê hervestig; die verskuiwingskoste het meer as N$500 000 beloop. Dit het egter die konstruksie van ‘n boma vir die grootvoet ingesluit en dit is destyds deur die Shiloh Wildlewe-toevlugsoord in vennootskap met die N/a’an ku sê-stigting, gedek.

Die oorsprong van die grootvoet bly steeds 'n geheim – selfs vir die ministerie. Beweringe bestaan dat hy dalk van die Tsumkwe-gebied is, of selfs van Botswana of die Etosha Nasionale Park.

Me. Marlice van Vuuren, uitvoerende direkteur van N/a’an ku sê, het destyds aan Republikein gesê die olifant is deur Shiloh Jolie-Pitt, Namibies-gebore dogter van die akteurs Angelina Jolie en Brad Pitt, na Apollo herdoop. – [email protected]