Walvisbaai se paaie in haglike toestand

Kontrakteurs wat tenders ontvang doen duidelik nie goed genoeg werk nie, aldus die onderburgemeester van Walvisbaai.
Otis Daniels_Finck
Walvisbaai • [email protected]





Die onderburgemeester van Walvisbaai, Saara Mutondoka, het ’n mosie rakende die toestand van die paaie in Walvisbaai ter tafel gelê.

Die mosie is vir informele besprekings verwys en sal daarna aan die bestuurskomitee deurgegee word vir verdere beraadslaging.

Mutondoka het gesê die paaie in die hawedorp is in ’n betreurenswaardige toestand.

“Slaggate neem teen ’n kommerwekkende tempo toe en die situasie vererger daagliks. Sommige padoppervlaktes het heeltemal afgeskil. Die raad betaal herhaaldelik miljoene dollars aan dieselfde kontrakteurs, ter wille van besparing. Aan sommige van hierdie kontrakteurs word kontrakte toegeken al is daar bewyse dat hulle nie die werk reg doen nie.”

Volgens haar het die raad reeds versoek dat ’n interne span verbonde aan die munisipaliteit die slaggate self moet herstel.

“Die raad gaan deur ’n lang proses om kontrakteurs aan te stel. Hulle word baie geld betaal om slaggate te herstel wat net ná ’n maand of twee weer verskyn. Dis onaanvaarbaar.”

Sy het uitgewys die publiek het gekla oor die swak gehalte van materiaal wat deur hierdie kontrakteurs gebruik word tydens openbare vergaderings wat vroeër vanjaar gehou is.

“Dieselfde slaggate word oor en oor herstel. Dit kom myns insiens neer op plundering van raadsgeld; dit kan nie langer geduld word nie. Kom ons hou op om kontrakte toe te ken vir die herstel van kleinskaalse slaggate en herstel dit eerder self.”

Sy het gevra die totale koste vir die herstel van slaggate vir die jaar geëindig 2020-’21 moet by die raad ingedien word saam met ’n aanduiding van straatliggings en alle ander relevante inligting.

Raadslid Leroy Victor het gesê die raad het vyf kruisings geïdentifiseer waar die oppervlak met plaveiselstene vervang moet word.

“Ons kyk ook na die herstel van sommige strate en het die Padfondsadministrasie gevra om bykomende finansiering te verskaf, aangesien meer vragmotors met swaar vragte ons paaie gebruik.”