Walvisbaai sê nee vir aborsie op aanvraag

Die meerderheid Walvisbaaiers is teen die wettiging van aborsies.
Otis Daniels_Finck
Walvisbaai • [email protected]





Die meerderheid deelnemers aan ’n openbare debat oor die voorgestelde wettiging van aborsie op aanvraag in Walvisbaai, het gesê hulle is nie ten gunste daarvan nie.

Ander aanbevelings sluit in dat die lang aannemingsproses hersien moet word, dat verpleegpersoneel hul houding moet verander teenoor jong meisies wat klinieke vir voorbehoedmiddels nader, en meer opvoeding onderneem moet word in terme van gesinsbeplanning.

Behalwe om hul menings te lug, is deelnemers aangemoedig om hul aanbevelings aan die parlementêre staande komitee oor geslagsgelykheid, maatskaplike ontwikkeling en gesinsake deur te gee, sodat wetgewers ’n ingeligte besluit oor die kwessie kan neem.

Die komitee is ingevolge artikel 59 van die Namibiese Grondwet in die lewe geroep.

As gevolg van verskeie versoekskrifte vanaf burgerlike organisasies wat ’n beroep doen op die wysiging van die wet op aborsie in Namibië, sowel as oproepe om die huidige Aborsie- en Sterilisasiewet van 1975 te liberaliseer en te hervorm, het die staande komitee ’n landswye openbare konsultasieproses begin om die mening van die publiek in te win.

Die komitee het reeds besoek aan Walvisbaai, Swakopmund, Hentiesbaai, Arandis, Usakos, Omatjete, Karibib en Omaruru afgelê.

Tans is aborsie slegs wettig sou ’n vrou swanger raak as gevolg van verkragting of bloedskande, of op mediese gronde indien die lewe van die baba of die lewe van die moeder in gevaar is weens die swangerskap.

GESONDHEIDSTELSEL FAAL MENSE

Luzelle Lestrade het gesê Namibiese vroue verdien beter.

“Hoewel dit ’n kwessie is van ‘my liggaam, my keuse’, wys die wetenskap die liggaam wat in jou groei, is nie deel van joune nie. Dis ’n aparte mens met sy eie DNS, eie vingerafdrukke en persoonlikheid. Aborsie is ’n vorm van geweld en faal ons vroue. Ons kies aborsie omdat ons gesondheidstelsel vroue in die steek laat. Aborsie is nie die antwoord nie. Herstel die stelsel. Die wet soos dit staan, is voldoende. Kom ons help vroue wat verkrag is, wat slagoffers van bloedskande is, of waar daar mediese gronde is om toegang te verkry tot ’n aborsie.”

Hetty Rose Junius het gesê: “Ek pleit dat vryheid aan vroue gegee moet word om voorbehoedmiddels te gebruik, sodat hulle ongewenste swangerskappe kan voorkom. Laat gaan die kulturele norme wat vroue afbreek.”

VRYE KEUSE

Omar van Reenen het aangevoer vroue moet ’n sê hê wanneer dit kom by wanneer hulle met ’n gesin wil begin en dat onveilige aborsies op wrede en onmenslike behandeling neerkom.

Volgens hom polisieer die huidige wet die vrou se liggaam.

“Om 128 vroue van 2018 tot 2020 toe te sluit omdat hulle aborsies ondergaan het, is wreed, onmenslik en vernederend. Ons kriminaliseer hulle vir hul keuse.”

Van Reenen het beklemtoon dat die Grondwet lewe beskerm; nie die van ’n fetus nie.

Hy meen aborsie moet op versoek gedurende die eerste trimester toegelaat word, sonder dat die goedkeuring van dokters, psigiaters en howe nodig is.

Hy het ook voorgestel dat daar nie van slagoffers van verkragting en bloedskande vereis word om enige dokumentasie voor te lê om ’n aborsie te ondergaan nie.

REALITEIT

Gail Taukuheke, ’n plaaslike maatskaplike werker, het gesê sy moet vrou alleen dienste aan 30 000 mense lewer.

“Dis ’n onmoontlike taak. Ek het ’n saak hanteer van ’n 10-jarige wat deur bloedskande swanger geraak het en wat ’n wettige aborsie moes kry. Ons moet praat oor die realiteite. Ons woon in ’n land waar ’n ma haar 14-jarige kind dwing om haar liggaam te verkoop en wanneer daardie kind swanger huis toe kom, word sy gedwing om ’n agterstraat-aborsie te ondergaan.”

Sy het voorgestel die ministerie verskaf beurse aan mense om hulle as maatskaplike werkers te kwalifiseer, en het gesê daar is ’n behoefte om krisis-swangerskapsentrums, veilige hawens en aannemingsentrums op te rig.

PERSOONLIKE ERVARING

Kerry Wood het haar ervaring gedeel ná sy op 19 swanger geraak en ’n aborsie gekies het terwyl sy in die Verenigde Koninkryk gewoon het.

“Dit het gelyk na die maklikste en die beste ding om te doen - of so het ek gedink. Skaamte het my gedryf om die besluit te neem.”

Die aborsie was geskeduleer vir toe sy nege weke swanger was.

“Ek het siek geword en die kliniek kon nie die prosedure uitvoer nie. Die prosedure is weer vir ’n paar weke later geskeduleer. Ek het weer siek geword en dit is weer geherskeduleer. Die vorige aand kon ek skaars slaap en vir die eerste en enigste keer het my baba geskop. Dit het my baie laat dink. Ná die prosedure het ek koud gevoel.”

Kort ná die aborsie het sy begin lakteer.

“My liggaam het gedink ek het geboorte geskenk. Die laktasie het ’n paar weke aangehou, wat net verder tot die trauma bygedra het. Ek is met ’n litteken gelaat waarmee ek vir die res van my lewe moet saamleef.”

Volgens Wood het die aborsie haar nie as vrou bemagtig nie, maar eerder haar lewe amper vernietig.