Walvisbaai DBV benodig vrywilligers
By die Walvisbaai DBV is altyd diere wat versorging en aandag benodig.
12 January 2021 | Local News
Justine Polster; Vrywilliger; “Daar is 'n konstante inname van diere en elkeen het liefde en sorg nodig.”
Walvisbaai se Dierebeskermingsvereniging (DBV) sorg elke maand vir ongeveer 150 katte en honde.
Die voorsitter van die DBV-komitee, Gavin Brasler, sê daar is altyd diere wat liefde en aandag nodig het. “Die publiek kan meer betrokke raak by vrywillige werk indien hulle nie by die komitee wil aansluit nie.”
Brasler en Lorraine Maritz is die enigste twee mense wat tans op die DBV-komitee dien.
“Die diere moet soveel as moontlik toegelaat word om rond te loop, gereeld versorg en ook gebad word. Die geboue en hokke benodig ook altyd aandag. Ons het mense nodig wat geld kan insamel en projekte kan lei, en natuurlik is enige donasies welkom.”
Volgens Brasler is daar te veel klein groepies wat na diere omsien.
“Sou ons almal kon verenig en ons hulpbronne en kennis bymekaar voeg, sou ons veel sterker wees. Só sou ons baie meer vir die diere kon doen.”
Aangaande opgraderings by die DBV het Brasler verduidelik dat die geriewe wat vir katte aangebring is, 'n groot verbetering was.
“Ons moet nog 'n paar hokke vir die honde bou. Ons wil ook die gebou en terrein verfraai om dit aantrekliker vir besoekers te maak. Met die onseker tye wat Covid-19 meegebring het, het ons egter nog geen insamelingsaksie beplan nie en sal dus voortgaan soos die situasie dit toelaat.”
Geldinsameling
Walvisbaai se DBV voer altyd iets in die mou en het groot pret wanneer dit by fondsinsameling kom. So is die musikant en akteur Stefan Ludik in 2018 in een van die hokke toegesluit en geld is vir sy “borgtog” ingesamel, wat meer as N$100 000 vir die vereniging verdien het.
Verlede jaar het hulle 'n virtuele drafstap aangebied, met elf hardlopers wat gesamentlik 24 km moes voltooi. Die deelnemers het daarin geslaag om N$26 000 in te samel.
Uitgawes
Brasler het gesê die DBV se gereelde uitgawes sluit water, elektrisiteit, salarisse en die veeartsenykundige rekeninge in. “Ander benodigdhede sluit in kos, medisyne, komberse, speelgoed en mandjies vir ons viervoetige vriende.”
Gedurende die feestyd was die DBV se Facebook-blad bedrywig, met etlike inskrywings oor honde wat in die straat rondgedwaal het en gevind is.
Deur sosiale media is hul eienaars gelukkig spoedig opgespoor.
“Ek wil die publiek bedank vir hul volgehoue ondersteuning, veral diegene wat dit gereeld doen. Sonder hul ondersteuning sou ons nie oorleef nie,” het Brasler gesê.
Voordele
Justine Polster, 'n lojale vrywilliger by die DBV, sê wanneer jy 'n vrywilliger by die vereniging is, strek dit tot voordeel van jou emosionele, fisieke en geestelike gesondheid.
“Dit is wetenskaplik bewys dat die besteding van tyd saam met diere 'n mens help om stresvlakke en bloeddruk te verlaag. Dit hou jou ook aktief, veral as jy met honde loop.
“Dit laat jou ook voel jy doen die regte ding en dat jy bydra tot 'n oplossing deur die werk wat jy verrig. ”
Sy sê wanneer jy met 'n dier begin werk, sien jy byna onmiddellik 'n verandering in sy of haar persoonlikheid. “Daar is 'n konstante inname van diere by die DBV en elkeen het liefde en sorg nodig. Jou hulp sal nooit ongesiens verbygaan nie.” Polster meen een van die maklikste maniere om 'n verskil te maak, is om met die honde van die DBV te gaan stap.
“Die meeste honde vaar nie goed in hondehokke nie en oorleef ongelukkig nie. Die lekkerste deel vir my is om die vreugde van elke dier te sien wat gehelp word.” Sy daag die publiek uit om betrokke te raak.
“Ons wil graag hê dat ouers hul kinders moet aanmoedig om by die DBV te kom help. Hulle kan met die honde stap of vir die katte aandag gee. Die DBV het 'n spesiale speelarea waar kleintjies met vierpootvriende kan speel. Ons wil graag meer mense betrek.”