Vroulike taxibestuurder maak wesenlike verskil
Veiliger opsie
02 March 2021 | Local News
Lavinia Ngodji; Taxibestuurder; “... ek probeer om ’n verskil in die gemeenskap te maak.”
Die plaaslike entrepreneur Lavinia Ngodji (27) verbreek stereotipes deurdat sy, as ’n vroulike taxibestuurder, ’n veiliger opsie vir ander vroue en kinders bied.
Te midde die toenemende voorvalle van seksuele en geslagsgeweld sowel as die toenemende aantal vermiste vroue en minderjariges – veral in die Erongostreek – bied Ngodji se taxi ’n veilige rit.
“Ek het ’n behoefte in die mark vir vroulike taxibestuurders gesien veral ten opsigte van veiligheid vir vroue en kinders. Ons lewe in ’n tyd waar geslagsgeweld algemeen voorkom en die meerderheid wat geraak word, is juis dié mark,” het sy gesê.
Passasiers kan innemende, vriendelike diens verwag wanneer sy hulle na hul onderskeie bestemmings neem.
“Mense gaan daagliks deur baie moeilike dinge. Soms, as hulle in ’n taxi klim, vind hulle ’n plek waar hulle vertroosting kan vind, kan praat en hulle las kan deel. Daardie kort rit kan ’n verskil in hul lewens maak,” sê Ngodji.
Haar taxi ry vanaf voorstad tot voorstad in Swakopmund. Afgesien daarvan om passasiers tussen Swakopmund en Walvisbaai te vervoer, kan sy ook pakkies teen ’n minimale prys aflewer.
“As ek gestuur word om ’n pakkie af te lewer, kom dit ongeskonde daar aan. Dit verseker dat mense my vertrou, en dit terwyl ek probeer om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” het sy gesê.
Haar daaglikse roetine begin met ’n gebed om volharding. Haar eerste verpligting is om 05:30 wanneer sy twee rondes doen om skoolkinders na hul onderskeie skole te neem.
Wanneer dit kom by uitdagings, is die grootste dat sy ’n vrou is.
“As die tweede vroulike taxibestuurder in die dorp, is manlike taxibestuurders geneig om onbeskof te wees en onnodige woorde vir my te sê. Maar ek lag saam met hulle en sê daarna vir hulle wanneer hul taxi's vol is, die passasiers in myne kan klim en dat ons kan deel.”
Sy moedig ander vroue aan wat droom om in ’n oorwegend manlike beroep ’n merk te maak, maar wat deur vrees oorheers word, om op te staan en net te begin.
“Die verandering begin by jou. Jy moet vir jouself sê jy kán dit doen, staan op en begin dit doen. Omring jouself met mense wat jou sal help. Dit sluit organisasies en plekke in waar vroue gehuisves word en raad kan kry oor hoe om oor te begin. As dinge moeilik begin raak, moenie moed opgee nie. Daar is altyd lig aan die einde van die tonnel.”
Sy het voornemende vroulike bestuurders gemaan om veiligheid hul fokuspunt te maak.
“Moet byvoorbeeld nie vier mans gelyktydig oplaai nie en probeer om nie laat in die nag te ry nie. Hou ook altyd pepersproei byderhand.”
Voorts het die entrepreneur Namibiese burgers aangemoedig om alle vorme van diskriminasie, veral teen vroue, te beëindig. “Namibië is vir almal. Dit is vir vroue en mans. Laat ons mekaar akkommodeer.”
Ngodji het in November 2020 as taxibestuurder begin werk ná sy ’n tweede motor gekoop het en besluit het om haar eerste motor as taxi te gebruik eerder as om dit te verkoop.
Die taxi is onder haar maatskappy Malnico Trading CC geregistreer, wat ook ’n spyseniersmaatskappy behels. Die maatskappy het ontstaan nadat Ngodji, as enkelouer, aangespoor is om verandering in haar gemeenskap teweeg bring.
Malnico is ’n samestelling van haar seun se naam Malachi en sy oorlede vader s’n, Franico.