Vroue wat ’n verskil maak

’n Groep weduwees het ’n inisiatief van stapel gestuur om minderbevoorregtes te help.
Otis Daniels_Finck
Narraville







Die Reach Out Ladies is ’n groep senior burgers wat besluit het om na ander bejaardes in Walvisbaai uit te reik en na hulle om te sien.

Die groep is nou al vier jaar aan die gang.

Aletta Dixson, die groep se spreekbuis, sê die inisiatief het nie net oornag gebeur nie. Sy het vir baie jare voor die laerskool aartappelskyfies en ander lekkernye verkoop.

“Destyds was daar ’n pakkie kitspap in die sakke met aartappelskyfies wat ek aangekoop het. Ek het dit versamel met die doel om dit aan mense te gee wat dit nodig het.”

Toe sy met dié stap begin het, het sy besef die nood is werklik groot.

“Dit wat ek uitgedeel het, was hopeloos te min. Ek kon nie by almal uitkom nie. Die nood is baie groter as wat ’n mens dink. Ek het toe ook vis en brood gaan koop en uitgedeel.”

Dit was ook nie lank daarna nie, en Aletta het besluit om na die kinderhuis op die hawedorp uit te reik.

“Toe ek die kinders daar sien, het ek besef hulle is van Narraville en dat ek van hulle ouers ken.”

Roepstem

Aletta sê sy het in daardie stadium klomp verskonings gemaak om nie aan God se roepstem gehoor te gee deur iets te doen om ’n verskil in die gemeenskap te maak nie.

“Ek het met talle verskonings vorendag gekom. Op ’n dag het ek ’n duidelike boodskap ontvang wat my aangespoor het om ’n paar vroue bymekaar te roep. Ek het van my vriendinne gebel en met die hulp van vier van hulle, het ek die groep op die been gebring.”

Die groep het mettertyd tot 12 lede gegroei.

Aletta sê die Reach Out Ladies is nie ’n geregistreerde organisasie nie.

“Ons wou die groep registreer, maar dit kos te veel geld om dit te doen. Baie mense vat hande met ons en ons is dankbaar daarvoor. Dit is egter nie so dat ons ’n vrag kruideniersware van iewers af kry nie, en ongelukkig kan ons nie by almal uitkom nie. Met God se genade is ons egter wel in staat om baie te verrig.”

Die groep het al vir leerlinge by verskeie primêre skole te hulp gesnel.

“Ons grootste projek was in 2019 toe ons vir ongeveer 600 kinders kos by die Narraville-rugbystadion uitgedeel het.”

Beginsel vas

Die groep se beleid is geskoei op die Bybelse gesegde dat jou linkerhand nie moet weet wat jou regterhand doen nie.

“Daarom het ons ons nooit voorheen in die sosiale media blootgestel nie. Ons wou nie gesien word nie en het verkies om agter die skerms te werk. Die koms van Covid-19 het ons egter van mening laat verander. Ons lede het minder geword.”

Twee jaar gelede het die groep hul eerste Kersete vir bejaardes gereël met die doel om byvoorbeeld vir rolstoel-gekluisterde ou mense ’n geleentheid te bied om ’n bietjie uit te kom. Kos en koek is voorgesit en almal het kospakkies ontvang. Verlede jaar se ete was ook ’n geseënde geleentheid.

“Ons lysie van behoeftiges vir die jaar se ete - wat ons besig is om te beplan - is reeds vol. Dit hang egter van die skenkings af wat ons ontvang. Ons weet ons kan dit nie alleen doen nie en moet ingedagte hou wanneer die ou mense hulle pensioengeld nou kry, gaan hulle eers weer in die nuwe jaar ietsie ontvang. Ons is weduwees en alles is ook nie maanskyn en rose vir ons nie, daarom het ons die hulp van die gemeenskap nodig.”

Hierdie jaar se ete gaan op 24 November by die Anglikaanse Kerk in Narraville gehou word. Daar was ook al ’n ete by die Evangeliese Lutherse Kerk aangebied.

Aletta verduidelik dit is onmoontlik om na almal uit te reik en dat die Reach Out Ladies soms nie bewus is van die baie ander mense wat swaarkry nie.

“Ons kan byvoorbeeld nie vir die wat in hul eie huise woon en met wie dit goed gaan, gee nie. Dit sal beteken dat ons ’n bord moet wegvat van iemand wat dit regtig nodig het. Ons staan vir die siek ouergarde van Walvisbaai en voorsien selfs weggooidoekies vir bedlêende bejaardes.”

Sy het lede van die gemeenskap aangemoedig om vir die groep te laat weet waar daar regtig ’n nood is.

“Sodra iemand ons van ’n ernstige behoefte vertel, gaan stel ons ondersoek in. Ons help waar ons kan, maar het regtig hulp nodig om te kan doen wat ons graag wil doen.”

Die groep reël ook uitstappies vir minderbevoorregte kinders oor die Kerstyd, iets wat hulle al die afgelope twee jaar doen.

“Enige kruideniersware is baie welkom. Ons benodig ook geskenke vir die kinders en is op soek na skoolitems, klere, seep, waslappe en tandepaste.”

Aletta kan by 081 202 3039 gekontak word.