Vir die liefde van musiek en pret

Otis Daniels_Finck
Windhoek ∙ Tanja Bause

“Maak tyd om na goeie musiek te luister. Jy het toegang tot die beste musikante van oor die hele wêreld in jou huis as jy net op YouTube kliek,” sê Wilna Liebenberg, die stigter en dirigent van die CGals-koor.

Die koor het verlede jaar tydens die World Choir Games in Vlaandere in België in twee kategorieë goud en silwer gewen. Die geleentheid se elfde jaarlikse weergawe is weens Covid-19-beperkings virtueel aangebied.

“Ons het die afdelings vir pop-, jazz-, gospel- en spirituele musiek gewen, wat 'n groot verrassing vir ons was omdat populêre musiek nie noodwendig die koor se sterk punt is nie,” het sy gesê.

Wilna is in Keetmanshoop gebore en het in Windhoek haar skoolloopbaan voltooi omdat sy musiek as 'n vak geneem het en in die Windhoek Jeugkoor gesing het.

“Ek het in 'n huis grootgeword waar musiek bevorder is. Ons het as familie baie konserte bygewoon en na klassieke musiek in die huis geluister. My jonger suster, Lindie Botha, is ook 'n musiekonderwyseres.”

CGALS

In 1998 het Wilna na Swakopmund verhuis en die CGals koor begin.

“C staan vir die musikale noot en Gals vir girls, of dan meisies. Die getalle lede het oor die jare heen gewissel, maar die koor het altyd tussen 22 en 26 lede.”

Weens die belangstelling in die koor het die een-keer-per-week oefensessies in Swakopmund in 2000 ook na 'n oefensessie in Walvisbaai uitgebrei.

Oor die jare het die koor gereeld langs die kus opgetree. Hulle het in gesamentlike konserte met die universiteitskoor van Potchefstroom, die Stellenbosch kollegekoor, Cantare Audire-koor en die Voices of Namibia Ensemble opgetree.

CGals het onder meer opgetree tydens die galadinee van die wêreldkampioenskap in jukskei wat in 2000 in Swakopmund gehou is, asook by die Afrika Statebondspele vir gimnastiek in 2016.

In 2012 is hulle Noorweë toe genooi en het by verskeie venues rondom Kristiansand, die tweelingstad van Walvisbaai, opgetree. Al die geld wat hulle deur hul konserte in Noorweë verdien het, het hulle in die Sunshine-sentrum op Walvisbaai teruggeploeg. Die sentrum is 'n opleidingsentrum vir kinders met spesiale behoeftes.

“Wat ons koor uniek maak, is dat ons lede van verskillende kultuurgroepe van Namibië is en dat die ouderdomsverskil tussen die jongste en die oudste lede 51 jaar is. Dis 'n private koor waar lede 'n oudisie moet slaag om deel te word.

“Alle vroue wat langs die kus woon, is welkom om vir oudisies te kom en aan te sluit. Die CGals Ladies Ensemble het oor die jare 'n huishoudelike naam in Namibië geword, nie net vanweë ons sangvermoë nie, maar ook ons liefde vir pret, groepgees en die liefde vir musiek wat ons deel.”

Die standaard van die koor het dramaties verbeter toe hulle in 2010 vir eksamens begin inskryf het.

“Ons het beide die Intermediêre en Gevorderde Koor-eksamens (Trinity) met 97% geslaag. Ons was reeds vier keer op die Ererol van Unisa en het elke eksamen waarvoor ons ingeskryf het met meer as 90% geslaag. Ons het tweede geëindig by die ATKV-kompetisie in Suid-Afrika in 2013. CGals het die Musica Sacra Ope-afdeling in Sochi, Rusland in 2016 gewen en toe verlede jaar se sukses by die Virtual World Choir Games in Vlaandere, België. Die eerste groot oorwinning in Rusland was 'n groot skok aangesien van die beste kore in hierdie afdeling meegeding het.”

“Ons sien uit om by die Sing for Gold kompetisie in Spanje vanaf 14 tot 22 Mei 2022 deel te neem.”

HOOGTE- EN LAAGTEPUNTE

“As dirigent van hierdie wonderlike koor was daar vele hoogtepunte: om saam met 'n koorfamilie te werk wat verstaan wat dit verg om op die wêreldverhoog te wees, om die werks­etiek oor die vordering van sangers te sien, om die ondersteuning van ons gemeenskap te kry wat altyd ons konserte bywoon en ons finansieel ondersteun.

“Die ondersteuning van die Nasionale Kunsteraad, om te sien hoe ons jongmense universiteit toe gaan en in wêreldklas universiteitskore aanvaar word, om Namibië op die wêreldverhoog te kan verteenwoordig. Om my liefde vir veral 'n klassieke opleiding te kan deel met dames wat nog nooit tevore hierdie wonderlike kunsvorm probeer het nie.

“Ons is ook geseënd om 'n uitstekende begeleier, Vera Malherbe, te hê wat van die begin af deel van die koor is.

“Die laagtepunte gaan nie altyd oor kompetisie-uitslae nie, want ons weet beoordelaars kan subjektief wees. Ons het 'n hartseer 2021 in die koor gehad met familielede van die sangers wat gesterf het.

“Dis ook hartseer wanneer lede verhuis en dus die koor verlaat.”

Wanneer Wilna nie met die koor besig is nie, gee sy opleiding in sang, kitaar, klavier, blokfluit en teorie by haar musiekskool. Sy is ook 'n konsultant vir die Internasionale Skool op Walvisbaai en dirigeer die ISWB-skoolkoor, gee opleiding in KS2, 3 Musiek en IGCSE Cambridge-musiek.

“Ek lei ook mense op om musiek onderwysers te word. Covid-19 het my gedwing om my digitale vermoëns op te skerp en te verbeter. Ek het met 'n YouTube-kanaal (Wilna Liebenberg) begin om my studente te kan bereik en om musiek aanlyn te leer.”

RAAD

“Ken jou kultuur en wees trots daarop. Neem die tyd en doen die moeite om jou huistaal behoorlik te praat.

“Maak tyd vir die mense rondom jou, kyk hulle in die oë en voer 'n gesprek met hulle – nie net deur WhatsApp en op sosiale media nie.

“Omring jouself met mense wat jou goed laat voel oor jouself. Jy kan nie altyd kry wat jy wil hê nie. Doen wat reg is, nie wat maklik is nie. Glo in jouself.”

MYLPALE

2013: ATKV-kamerkoorafdeling: tweede.

2014: Riga, Letland: vier silwer diplomas.

2016: Sochi, Rusland: een goud en twee silwer. Wenners van die “Musica Sacra”-afdeling.

2018: Tshwane, Suid-Afrika: een silwer en twee brons.

2021: Vlaandere, België: een goud en een silwer. Wenners van die “pop, jazz, gospel en spirituele” afdeling en tweede plek in die afdeling “volwasse kore”.