Toerismesekuriteitseenheid vir kusdorp

Die Swakopmund-munisipaliteit het ’n Toerisme-sekuriteitseenheid geskep wat uitsluitlik ten doel het om besoekers aan die dorp veilig te hou.
Otis Daniels_Finck
Swakopmund ondervind die afgelope tyd ’n toename in geweld en rooftogte wat op toeriste gemik word.

Die Swakopmund-munisipaliteit weier egter om terug te sit en bloot toe te kyk hoe dié verskynsel voortduur of selfs vererger.

Die munisipaliteit het ’n Toerisme-sekuriteitseenheid geskep met die doelwit om steun aan die Namibiese polisie en die nooddienste-afdeling te verskaf en terselfdertyd die veiligheid van besoekers aan die kus dorp op te skerp.

Nadat die munisipale raad gesien het hoedat die wêreldwye Covid-pandemie die getalle internasionale reisigers ernstig laat inkrimp en terselfdertyd ’n toename in kriminele aktiwiteite meegebring het, is besluit dat toeriste se veiligheid ’n hoofprioriteit is.

Die Raad het die optrede van die Namibiese polisie verwelkom om hul sigbaarheid in die dorp te verbeter, asook die nuwe mobiele toeristeveiligheidspan wat reeds begin werk het.

“Hierdie eenheid sal 24/7 werksaam wees en is nie net daarop gemik om die veiligheid en sekuriteit van besoekers te versterk nie, maar ook om toeriste by te staan en te adviseer oor hul veiligheid. Die span sal ook die polisie met ondersoeke bystaan,” het die Swakopmund-munisipaliteit in ’n verklaring gesê.

Luidens die verklaring was daar oor die jare klagtes, voorvalle van geweld en kriminele optrede teen toeriste.

“Ongelukkig is die meeste van hierdie klagtes nie tot die slagoffers se bevrediging opgelos nie, wat die dorp se goeie naam en Swakopmund se veiligheidsrekord in gedrang gebring het. Die nuut gestigte Toerismesekuriteitseenheid streef om in hierdie opsig ’n verskil te maak.”