So lyk die naweek

Anneli Erasmus
‘n Skool kabeljoue by Myl 72 het Maandag vir ‘n vistermansfees gesorg. Sommer gou was ‘n horde manne met hul stokke daar. Plek-plek het harde woorde geval oor lyne wat gekruis het en die visinspekteurs was ook daar om die dag se vangs tot tien af te tel en dan die boekies uit te haal.

Die samedromming was feitlik teenaan die grens van die geslote gebied om Myl 72. Van die grootste kabeljoue wat in die visskottels beland het, het die skaal op tussen 8 en 10 kg getrek. Van die hengelaars het van ver gekom met motors met registrasiemerke van Walvisbaai wat ook ingetrek het.

Geselsgoed van die week was die enkele kabeljou van 14 kg wat Maandag by Horingbaai inkatrol was. Oor die ganse gebied van Swakopmund noordwaarts was dit wel babers en haaie van feitlik al die bekende soorte hier te lande. By Myl 26 het Maandag wel ‘n paar kabeljoue uitgekom met ‘n enkeling in die vangs wat 8 kg geweeg het.

Gister was die see nog taamlik rof, maar môre (Vrydag) gaan kalmer toestande intree met effense rowwe water weer Saterdag. Sondag en Maandag gaan kalmer water weer oorneem. Dagtemperature gaan na verwagting tussen ‘n matige 20 en 21 grade Celsius bly. Net matige suidwestewinde word vir die middae voorspel.