Rente op waterskuld dalk geskrap

Die munisipale raad van Walvisbaai is hard op soek na oplossings wat tot voordeel van die dorp inwoners strek.
Otis Daniels_Finck
Walvisbaai • [email protected]







Die munisipale raad van Walvisbaai is besig om ondersoek in te stel of die opgehoopte rente op uitstaande waterskuld van inwoners en besighede afgeskryf kan word.

Dié hawedorp se burgemeester, Trevino Forbes, het Donderdag tydens ’n raadsvergadering gesê ’n resolusie wat nog ter tafel gelê moet word, gaan voorsiening maak vir ’n voorstel dat geen rente op uitstaande rekeninge oor ’n tydperk van een jaar gehef word nie.

“Dis die raad se mandaat om ’n diensverskaffer te wees en ons wil graag ’n effense finansiële verligting vir inwoners bring. Ons erken ons het in sommige gevalle misluk as gevolg van kwessies wat ons geërf het, maar ons werk hard saam met die tegnokrate om met oplossings vorendag te kom.”

Forbes het bygevoeg die raad sal die bestuur van die dorp betrek om ook die huidige rentekoers te hersien.

“Ons is hoopvol die besluit sal geïmplementeer kan word voordat die raad met reses gaan.”

Forbes het gesê hoewel die raad binnekort in reses gaan dit nie beteken raadslede mag hul verantwoordelikheid teenoor die inwoners van Walvisbaai staak nie

“Stel julle beskikbaar en raak betrokke by welwillendheidsgeleenthede wat tot voordeel van die gemeenskap is.”

Hy het ook nuutverkose ampsdraers gelukgewens en hulle aangemoedig om die druk te weerstaan om besluite te neem wat hulself sal bevoordeel.

“Laat Walvisbaai die dorp wees wat die nasionale standaard stel vir samewerking en die neem van goeie besluite tot voordeel van sy inwoners.”