Plaaslike gimnas begin eie klub
'n Voormalige nasionale gimnas en erkende beoordelaar, het haar eie klub by die kus op die been gebring.
24 November 2020 | Local News
Janice van Rooyen; Eienaar; “Gimnastiek brand vuurwarm in my hart. . .”
'n Walvisbaaise gimnas het besluit om haar eie ritmiese en aërobiese gimnastiekklub, die Atlantic Gymnastics Club, op die hawedorp te stig.
Janice van Rooyen, wat haar loopbaan as ritmiese gimnas in 2000 begin het, sê die tyd het aangebreek dat sy haar kundigheid met ontluikende gimnaste deel.
“Ek werk voltyds by die Namibiese Visserye- en Maritieme Instituut (Namfi), maar gimnastiek is my passie. Ek was al 'n lid van verskeie ander klubs, maar het myself nog altyd beskikbaar gestel as my hulp of dienste benodig word.”
In haar gemeenskap is sy bekend as “Gymnastic Janice” het ouers het haar gereeld gekontak om te vra of hulle hul dogters by haar kan inskryf.
“Dikwels – wanneer ek sê ek het nie 'n klub van my eie nie – het hulle my aangemoedig om een te stig. Ek het gewoonlik maar die kontakbesonderhede van ander afrigters met hulle gedeel, maar soms het van die ouers my teruggebel en gesê hul dogter het soveel potensiaal, maar dat hulle eenvoudig nie die fooie kan bekostig nie.
“Dit het my aangemoedig om my eie klub te begin.”
Janice het in 2000 daagliks vanaf 17:00 in die Narraville Primêre Skool se saal geoefen.
“My ma het my in 2004 by die Walvisbaai Gimnastiekklub ingeskryf. Toe ek vlak 8 bereik, het ek my destydse afrigter, Roumiana Kostin, begin bystaan met die jonger meisies. Later het die klub my as hulpafrigter aangestel en ek het elke maand 'n inkomste verdien.”
Roumiana het Janice se skedule só uitgewerk dat sy kon afrig én oefen.
“Op 16-jarige ouderdom het Roumi besluit sy wil my vir 'n vlak 1-afrigterskursus van die Internasionale Gimnastiekfederasie (FIG) inskryf. My ma het my altyd daaraan herinner ek moet nie vergeet dat ek nog 'n leerling is nie. Tog was ek vasbeslote en het gesorg my gimnastiekloopbaan geniet voorkeur.”
Janice het haar eerste afrigterskursus op 14 Junie 2009 voltooi en in daardie stadium was sy die jongste ritmiese gimnastiekafrigter in die land.
“My verjaardag is op 15 Junie en die ontvangs van my sertifikaat by die toekenningsgeleentheid was vir my die beste geskenk ooit. Nadat ek besluit het om op te hou met gimnastiek, het ek deeltyds begin afrig en ook die kursusse vir ritmiese beoordelaars gedoen.”
Sy het ook in April 2016 'n ouderdomsgroep- en ontwikkelingskursus by FIG gedoen en net 'n paar maande later haar nasionale beoordelaarskursus voltooi.
“Ek het by talle ritmiese kompetisies in Namibië kans gekry om te beoordeel en ook die voorreg gehad om 'n lynregter te wees by die Afrika-kampioenskap en Junior Statebondspele wat in 2017 op Walvisbaai gehou is.”
Janice sê haar nuwe klub fokus op ritmiese en aërobiese gimnastiek. Terwyl aërobies vir haar iets nuuts is, is sy opgewonde oor die uitdaging.
“Ek het jare se ondervinding in ritmiese gimnastiek en is gereed om hierdie nuwe uitdaging aan te pak. Ons oefen elke dag van 17:30 tot 19:00. Ek het al 12 meisies wat vir ritmiese gimnastiek geregistreer het en hulle sal in Januarie 2021 begin oefen.”
Sy het ook 'n saal in die dorp bekom en sê sy is dankbaar vir die geleentheid om dit te gebruik.
“Ek sal tot 30 meisies kan hanteer en verskillende tydgleuwe aan hulle kan toeken.
“Die gimnaste moet minstens vier jaar oud wees en moet vyf word in die eerste jaar van inskrywing. Enige kind kan registreer; niemand is te oud om te leer nie.”
Janice sê sy sal haar tyd en energie bestee om te verseker haar jong gimnaste se grondslag word van dag een af behoorlik vasgelê en dat hulle alles leer.
“Ek doen dit nie vir die geld nie. My klub sal dogtertjies leer wat ek 20 jaar gelede geleer het en nog steeds elke dag leer.
“Ek sal saam met die meisies op die mat oefen en wys wat van hulle verwag word en saam met hulle werk om hul doelwitte te bereik.”
Sy sal aanvanklik die enigste afrigter by Atlantic Gymnastics Club wees, hoewel sy bygestaan word deur twee voormalige gimnaste wat in Januarie 2021 hul beoordelaarskursus gaan doen.
Daarna sal hulle as beoordelaars by die klub geregistreer word.
“Gimnastiek brand vuurwarm in my hart en ek wil ander daarmee aanspoor. As daar geen geleentheid is nie, skep dan een vir jouself.
“Hierdie jong gimnaste is die nasionale atlete van môre.”