Pa swem nog 'n myl vir sy outistiese seun

Ludwig Haller het onlangs sy sesde Jetty Mile geswem uit waardering vir sy outistiese seun, Fanilo (12), asook vir die skepping van bewustheid en aanvaarding vir outisme in Namibië.
Otis Daniels_Finck
Swakopmund • [email protected]



Ludwig Haller het voor die Nuwejaar die jaarlikse Jetty Myl in Swakopmund geswem met sy outistiese seun, Fanilo (12), asook die bewusmaking, aanvaarding en begrip vir outisme in Namibië as sy dryfveer.

Uit 134 swemmers het Ludwig algeheel 24ste geëindig – sy beste prestasie nóg in die ses Jetty Myle waaraan hy al deelgeneem het.

“Op 51 jaar val ek in die meesterskategorie. Ek het daarin geslaag om 'n klompie jonger en selfs nasionale swemmers agter te laat.

“Dit gaan egter nie oor my nie. Ek is lief vir swem en hou daarvan om dit wat ek graag doen te gebruik om bewustheid en ondersteuning vir diegene met outisme te bring,” het hy aan Erongo 24/7 gesê.

Die idee om ter bewusmaking van outisme te begin swem, het volgens hom sowat drie jaar gelede vlamgevat.

“Ek het besef die Jetty Myl oopwaterswem sal 'n wonderlike geleentheid wees om bewustheid oor outisme te skep.”

Luidens Haller is outisme 'n gestremdheid waarvan baie mense nie veel weet nie.

“Die Jetty Myl is 'n goeie openbare platform om meer bewustheid te skep, veral vir kinders met outisme en ook om 'n platform vir hulle te skep om 'n regverdige kans in die lewe te hê.”

Hy reken bewustheid is die grondslag vir aanvaarding en begrip vir outisme en enige ander gestremdheid.

“Ek wil graag waardering skep vir mense met outisme en lig werp op die behoefte aan veral onderwys en opleiding sodat hulle die voorregte kan geniet wat die meeste mense het en as vanselfsprekend aanvaar.”

Volgens Haller is een van die ­grootste uitdagings in Namibië die gebrek aan fasiliteite en opleiding van opvoeders om spesifiek kinders met outisme te onderrig en op te lei.

“Vele skole het nie gespesialiseerde opvoeders wat met diegene binne die outismespektrum kan werk nie. Dis 'n groot behoefte in Namibië en met ons pogings by 'n geleentheid soos die Jetty Mile, hoop ons dat hierdie behoeftes aangepak kan word,” het hy gesê.

Hy wys uit dat vordering wel in hierdie verband gemaak is. Hy verwelkom byvoorbeeld die stigting van die Outismevereniging van Namibië, asook die Stepping Stone School-kleuter­skool en 'n laerskool vir kinders met outisme of ander leerprobleme op Swakopmund.

Volgens Haller was pogings om die outistiese bevolking in Namibië getel te kry tot dusver onsuksesvol.

“Dit gaan egter nie oor getalle nie, maar om te weet hulle is daar en hoe om hulle te help.”