Nuwe Afrikaanse tesourus op die rak

20 000 nuwe inskrywings
Otis Daniels_Finck
“Afrikaans is so lewendig soos nog nooit te vore nie, dit groei, dit bruis en dit knor, dit sukkel, maar dit groei die hele tyd, letterlik elke dag.”

Só het die voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum, prof Leon de Stadler, verlede week by die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe gesê.

De Stadler, ook voorheen verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, het saam met sy vrou, Amanda, die Afrikaanse tesourus bygewerk. Toe die idee vir ’n Afrikaanse tesourus by hulle posgevat het in die tagtigerjare van die vorige eeu, het hulle het baie tesourusse geraadpleeg en uiteindelik op dr L Brouwers en dr F Claes se Het Juiste Woord, die grootste inventaris van sinonieme, styl- en betekenisvariante, uitdrukkings en teenstellings in Nederlands, as riglyn besluit.

Uiteraard moes die onderliggende konseptuele struktuur van die woordeboek aangepas word om die Afrikaanse leefwêreld te reflekteer. Met die hersiening van die tesourus is die struktuur behou, maar is die interne organisasie van tesourusartikels vernuwe en verbeter.

140 000 inskrywings

Die nuwe uitgawe van die Tesourus van Afrikaans bevat meer as 140 000 inskrywings in 855 betekenisvelde waarvan 20 000 nuwe inskrywings is. Dit het kruisverwysings, idiome, vaste uitdrukkings en ook meer inskrywings uit die variëteite van Afrikaans.

“Sedert die verskyning van die Tesourus in 1994 het die Afrikaanse woordeskat baie sterk gegroei – dink maar aan die woordeskat wat betrekking het op die moderne tegnologie, maar veral ook in die huidige tydvak die pandemiewoordeskat wat die taal verryk het,” het De Stadler gesê.

“Die ironie is juis dat die taal elke dag verder groei: Reeds toe die manuskrip op pad na die drukker was, was daar weer nuwe woorde soos bioborrel, druppeloordraagbaar, superverspreider, afstandskepping, voetgroet, elmboogkug, superverspreidergeleentheid en nog meer wat nie die huidige uitgawe gehaal het nie.”

Variëteite

De Stadler het bygevoeg dat dit vir hulle veral lekker was om ook op die variëteite van die taal te kon fokus met die opname van vorme soos annerlik, jits, newwer, newwermaaind, nema, voorlik, omtes, oralster, klossie (kleinhuisie), moewies, habba, piemp, liksens, mouter, skorro-skorro, loslappie, komvandaan, barakat, ottermaklottertjie, boom en koelpatats (dagga), madjat, sjoekran, properse, sterkgevreet (sterkgevriet) (sterk van gees). Daaruit blyk juis die rykheid van die Afrikaanse taalskat.

“Dit was belangrik om erkenning aan die variëteite te gee en duidelik te maak dat ons aan hulle aandag moet skenk. Natuurlik moet ons nog meer doen – die meer as 300 inskrywings wat opgeneem is, is maar net ‘n begin.”

De Stadler het gesê terwyl hy met die projek besig was, het hy weer bewus geword van Afrikaans as ’n taal wat lewe. Volgens hom wys die hersiene tesourus juis op dramatiese wyse hoe lewendig die taal is.

“Dit was fassinerend om te sien wat met Afrikaans gebeur het in ’n tydperk van meer as 20 jaar. Die taal lewe, jy voel heeltyd die pols daarvan, en die hersiene tesourus laat hoor hierdie hartklop in die opname van die meer as 20 000 nuwe inskrywings. Enigiemand wat vandag vir jou wil sê Afrikaans is besig om dood te gaan; ek het slegte nuus vir daai persoon. Dit is doodgewoon nie so nie.”

De Stadler meen almal wat skryfwerk doen, sal by die hersiene tesourus baat, maar hy het bygevoeg dat daar ook ander “ruimtes” is waarin die boek gebruik kan word. “Dit was veral verblydend om byvoorbeeld te sien dat die boek die aandag van onderwysers getrek het en dat hulle meer wil weet oor hoe dit in die klaskamer gebruik kan word.”