’n Smullekker kapitaalinspuiting

Die Nedbank Swakop Food Fest het weereens alle verwagtinge oortref.
Otis Daniels_Finck
Swakopmund • [email protected]





Alle paaie het die naweek na die Nedbank Swakop Food Fest gelei waar vakansiegangers van oral en veral die liefhebbers van lekker kos weer met ’n kulinêre ekstravanganza bederf is.

Ten spyte van aanvanklike probleme met die ligging van die fees, wat daartoe gelei het dat dit een dag korter as gebruiklik was, sê die organiseerder Dalene Stephanus sy is verheug oor die opkoms.

“Solank my verkopers gelukkig is, is ek ook gelukkig en ek dink my verkopers is baie tevrede. Die munisipale raad is gelukkig en so ook my gaste. Dis al wat saak maak,” het Stephanus gesê.

Die hoofborg van die geleentheid, Nedbank Namibia, het ook sy tevredenheid met die geleentheid uitgespreek.

“Ons is baie dank verskuldig aan die Swakopmund-munisipaliteit. Hulle was uitstekende gashere en het baie moeite gedoen om weer eens ’n suksesvolle Nedbank Swakop Food Fest te verseker,” het Nedbank Namibië se hoof van bemarking en kommunikasie, Gernot de Klerk gesê.

Hy het bygevoeg Nedbank is geëerd om met die Food Fest geassosieer te word.

“Ek dink mense ervaar wêreldwyd ’n verskuiwing in denke om te waardeer wat ons het. Dis ’n wonderlike plek vir Namibiërs om bymekaar te kom en vir ons is dit ’n voorreg om by die fees betrokke te kan wees,” het hy bygevoeg.

Cara Olivier was een van vele bywoners wat die groot verskeidenheid van verskillende kossoorte wou kom geniet, maar toe sy by die fees opdaag, was baie van die lekkernye reeds uitverkoop.

"Die verkopers wat ek teëgekom het, was baie gaaf en van die kosse waarop ek my lippe kon lê, was baie smaaklik," het sy gesê.

Cartel Streetfood het hul debuut by dié Nedbank Swakop Food Fest gemaak en het gou ’n gunsteling geword met hul avant-garde koskombinasies en tong-in-die-kies produkname.

“Ons fokus op straatkos van oor die hele wêreld heen. Op dag een het ons op Amerikaanse voedsel gefokus en op die tweede dag Italiaanse kos opgedis,” het Cartel Streetfood se eienaar en stigter, Chris Isaaks, vertel.

Isaaks het 15 jaar in Engeland deurgebring en sê dit was waar hy op die inspirasie vir sy unieke konsep afgekom het.

“Die kultuur van straatkos is baie groot daar. Toe dit hier in Namibië begin het, het ek gedink ek kan ook daartoe bydra en vir ons plaaslike inwoners ’n ander soort geur gee," het hy gesê.