Kry jou tuingereedskap gereed
Swakopmund gaan binnekort die tuiste van ’n varsgroentemark wees.
Swakopmund • [email protected] Die Namibian Community Skills Development Foundation (Cosdef) gaan op 6 November die eerste varsgroentemark en ook ’n landbouprojek by die Community Skills Development Center (Cosdec) bekend stel.
Die inisiatief spruit uit samewerking tussen die Australiese liefdadigheidsorganisasie Towards a Better World (TABW) en Cosdef.
Beide organisasies se doelwit is om mense te bemagtig deur vaardigheidsontwikkeling en glo dit is die sleutel tot die bou van ’n sterker ekonomie en wat op sy beurt mense sal help om ’n beter toekoms vir hulself te bewerkstellig.
Opleidingsprogram
Leerlinge sal ’n ses maande lange opleidingsprogram volg wat daarop fokus hoe om groente aan die kus en in woestynomstandighede te verbou.
Hulle sal leer hoe om kompos te maak, asook meer oor wurmboerdery, wisselbou, siektebestuur en watter gewasse die beste aan die kus gekweek kan word.
Deelnemers moet wat hulle leer in hul gemeenskappe toepas, sodat hulle kan help met die volhoubaarheid van voedselsekerheid en om ’n inkomste te genereer.
Die eerste van die opleidingsprogramme het reeds in Augustus vanjaar begin, met 13 begunstigdes wat gekies is om te leer oor alle aspekte van groenteproduksie. Elke begunstigde het ’n stukkie grond van 14 m² ontvang wat hulle vir gewasproduksie moet gebruik.
Tydens die program het hulle ook hulp ontvang om groentetuine by hul huise te begin om te verseker hulle sal kan voortgaan om hul eie kos te produseer lank ná die opleidingsprogram voltooi is.
Die sentrum beoog om die aantal begunstigdes elke ses maande met 50 te verhoog.
Matt Napier, die uitvoerende direkteur van TABW, sê die projek is daarop gemik om werkloses in die gemeenskap te bevorder en is hoofsaaklik op vroue gerig.
Hy is van mening landbou is ’n onontginde mark in Namibië en dat daar geen rede is waarom Namibië nie genoeg voedsel kan produseer om in sy eie mense se behoeftes te voorsien en om ’n uitvoerder van vars produkte na buurlande te word nie.
“Dit wat ons in Namibië produseer, is van kritieke belang om ons ekonomie te laat groei aangesien geld in die land sal bly en nie na die buiteland sal vloei nie,” het hy beklemtoon.
Die amptelike bekendstelling van die projek is op 5 November by Cosdec Swakopmund. Dit sal gevolg word met ’n ope dag vir die publiek op Saterdag 6 November.
Cosdef se projek het ten doel om landbou te bevorder, voedselsekerheid te verbeter en ekonomiese groei in Swakopmund en ook Namibië te stimuleer deur die oprigting van ’n opleidings- en produksiesentrum vir landbou.
Comments
Erongo
No comments have been left on this article