Kom maak Geraas Oppie Koppie
Die bestuur van die Spitzkoppe-ruskamp is vasbeslote om steeds aan musiekliefhebbers ’n uitmuntende geleentheid op te dis.
01 December 2020 | Events
Lesley Tjongarero; Eienaar; “. . . mense is op soek na musiek en ’n rede om uit te kom.”
Na vanjaar se Spitzkoppe Rockfees weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is, is daar ’n nuwe geleentheid vir musiekliefhebbers op die horison.
Geraas Oppie Koppie sal op 11 en 12 Desember by die Spitzkoppe-ruskamp en kampeerterrein plaasvind.
“Ons kon nie die Spitzkoppe Rock Fest hou nie, maar ons besef mense is op soek na musiek en ’n rede om uit te kom. Daarom het ons besluit om iets klein te hou vir mense om te geniet,” sê Lesley Tjongarero, die eienaar van die Spitzkoppe-ruskamp.
EG NAMIBIESE VERMAAK
Die vermaakprogram vir die eerste Geraas Oppie Koppie sluit vertonings van die talentvolle Vaughn Ahrens, Kalux en die Afrikaanse rockgroep Blikweg in. Daar is ook vermaak vir die hele gesin met springkastele en skuimpartytjies vir die kleinspan en ’n 4x4-vasbyt en kleurpartytjie vir volwassenes.
Tjongarero sê warmlugballonritte word ook aangebied vir diegene wat Spitzkoppe vanuit die lug wil beleef.
VOLLE TOEGANG
Kaartjies vir die fees kos N$100 per persoon en sluit toegang tot alle aktiwiteite en optredes vir die naweek in.
Spesiale aanbiedinge vir kampeerders is ook beskikbaar.
Volgens Tjongarero kan besoekers N$120 per persoon betaal vir ’n kampeerplek vir die naweek.
Vir diegene wat nie ’n tent wil saamsleep nie, kan ’n tent met twee draagbare beddens, twee matrasse en twee kampstoele teen N$1 000 vir die naweek huur. Hierdie opsie sluit ook kaartjies vir Geraas Oppie Koppie in.