‘Kersfeeskomeet’ sorg vir skouspel uit Namibië

Otis Daniels_Finck
Windhoek • Ronelle Rademeyer


Soos in Betlehem van ouds het die “wyse manne en vroue” van die astronomiewêreld die afgelope Kerstyd na Namibië gereis agter ‘n helder hemelliggaan aan.


Sterrekykers se oë, teleskope en kameras was die afgelope twee of wat weke vasgenael op Namibië se westerkim om komeet Leonard (C/2021 A1), ook bekend as die Kersfeeskomeet, waar te neem.

Skouspelagtige foto’s wat deur buitelandse astronome en amateur-astronome van komeet Leonard geneem is, is vanuit Namibië die wêreld ingestuur

Dié komeet het drie opeenvolgende helder uitbarstings ondergaan – op 15, 20 en 23 Desember – wat dit besonder skouspelagtig gemaak het.

Dit was saans ná sononder net bo die westerkim sigbaar. In dele van die land waar min stads- en dorpsligte die nagruim verlig, was dit met die blote oog sigbaar.

Dié komeet het gister sy perihelium bereik, wat beteken dit was op sy naaste punt aan die son.

Leonard is een van die skaars hiperboliese komete wat net een keer deur die sonnestelsel beweeg voordat dit in ’n hiperboliese baan in die interstellêre ruimte verdwyn. Vir mense wat nie die afgelope twee of wat weke die komeet waargeneem het nie, sal vanaand waarskynlik die heel laaste geleentheid wees.

’n Komeet is ’n klein, ysagtige hemelliggaam wat oor die algemeen in ’n sterk elliptiese baan om die son wentel. Wanneer ’n komeet naby die son kom, verdamp ’n gedeelte van die komeet se materie en word ’n sogenaamde koma en dikwels ook ’n stert of roei gevorm. Die soliede deel van die komeet word die komeetkern genoem.

Komete bestaan uit ys, gas en stof en staan daarom ook as “vuil sneeuballe” bekend. Die kern kan van ’n paar honderd meter tot tientalle kilometers breed wees, terwyl die koma kan wissel tussen duisende en miljoene kilometers in deursnee en die stert (of sterte) kan tot 1 AE (astronomiese eenheid), of 150 miljoen km, lank wees.

Komeet Leonard is ’n inkomende langperiodekomeet wat op 3 Januarie verlede jaar deur GJ Leonard by die Mount Lemmon-sterrewag in Arizona ontdek is.

Die komeet was toe 5 AE (750 miljoen km) van die son af. Dit was gister 0,6 AU, of 90 miljoen km vanaf die son.

Langperiodekomete ontstaan waarskynlik in die Oort-wolk, ’n sferiese wolk van ysagtige liggame in die buitenste sonnestelsel. Dié komete word in die rigting van die son gewerp deur swaartekragsteurings wat veroorsaak word deur óf die groot buitenste planete (Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus), óf moontlik sterre wat verby die sonnestelsel beweeg.