Kamplekke word blink gepoets
Met die vakansieseisoen om die draai, het Namibia Wildlife Resorts kampeergeriewe aan die kus opgeknap.
19 November 2019 | Local News
Mufaro Nesongano; NWR-woordvoerder; “Ons is nie besig om af te breek nie, dit is standaard opknapping.”
Foto’s wat wat glo wys dat kampeergeriewe by Jakkalsputz afgebreek word, het onlangs ‘n bohaai op sosiale media veroorsaak.
Mnr. Mufaro Nesongano, die skakelbeampte van Namibia Wildlife Resorts (NWR), het egter verduidelik dit is slegs standaard opknapping waarmee hulle besig is.
Volgens hom sal Jakkalsputz, Myl 72 en Myl 108 se kampeerplekke ongeveer teen 1 Desember weer oop wees vir die publiek.
Strukture by Myl 72 en Jakkalsputz word oorgeverf en dit wat nie funksioneel is nie, word vervang.
Besoekers sal na verwagting N$240 per dag opdok vir ‘n kampplek vir een tot vier mense.
Mnr. Jack Enright en ’n groep van sowat 30 ander mense kamp reeds al 20 jaar lank by Myl 108.
Met verloop van tyd het NWR ‘n werksverhouding met die groep aangeknoop.
Enright het gesê die kampplekke by Myl 108 kry nuwe nommers, word oorgeverf en weer afgebaken om almal ‘n standaard grootte te maak.
“Die ou ablusieblokke word afgebreek om plek te maak vir 16 nuwe eenhede waarvan almal met ‘n stort, toilet en wasbak toegerus word. Die voriges het slegs ‘n stort en toilet gehad.”
Die winkel sal ook ‘n nuwe jas dra.
Enright het die versekering gegee dat daar nou deurlopend aas, ys en hout beskikbaar sal wees.
“Daar gaan ook ‘n vrieskamer beskikbaar wees by die winkel teen N$ 50 per dag. Die plan is dat die winkelbeampte, mnr. Chris Isaaks, twee keer per week dorp gaan om winkelvoorraad te kry. Vakansiegangers kan dan ook bestellings by hom en hy gaan sorg dat daar ook elke tweede of derde dag vars brood op die winkelrakke is.”
Die vakansiehuisies gaan ook opgegradeer word. Die plan is om die stoepareas toe te maak en dit deel van die huise te maak.
“Ons sal dit ongelukkig nie kan klaar hê voor Desember nie, maar dit sal in Januarie afgehandel word.”
Die strate het ook nuwe name en naamborde gekry.
“Die vorige straattekens was opgeroes. Daar is nou ‘n Strandstraat en ‘n Woestynstraat en al sulke dinge,” het Enright gesê.
Om vir ‘n nag te kamp, sal voortaan N$400 kos. Vir elke ekstra kampeerder is dit N$75 per kop. Indien jy beplan om meer as tien dae te bly, sal dit N$300 per dag kos.