‘Kabeljou-loop’ word fyn dopgehou

Vissery-inspekteurs hou die verloop van sake by verskeie visvangplekke noukeurig dop.
Otis Daniels_Finck
Walvisbaai •[email protected]





Die kabeljou-loop het vroeër vandeesmaand begin met groot getalle hengelaars wat by Paaltjies naby Walvisbaai waargeneem is waar hulle vis ingekatrol het.

Volgens die skakelbeampte van die ministerie van visserye, me. Uaripi Katjiukua, hou vissery-inspekteurs visvangaktiwiteite by Paaltjies noukeurig dop.

“Hierdie poging sal regdeur die feestyd voortduur. Ons het vanaf 1 tot 12 Desember reeds 45 boetes ter waarde van N$46 100 uitgereik vir oortredings soos hengelaars wat ondermaat vis vang of met verbode annelidwurms hengel.”

Sy het bygevoeg die wetstoepassers kan nie hul moniteringstrategieë aan die publiek bekend maak nie.

“Ons kan wel die publiek verseker die ministerie sal die hulpbronne beskerm en toesien dat hengelaars by die daaglikse limiet, groottebeperkings en gebiedsbeperkings hou.”

Hengelaars sal weer tot op 31 Desember kabeljou by Paaltjies kan vang. Hierdie regulasie word afgedwing om die broeivoorraad van silwer kabeljou (Argyrosomus inodorus) te beskerm wat in hul jaarlikse migrasie besig is om na broeiplekke in sentraal-Namibië (Sandwich Harbour-gebied) vanaf die Noorde (Skedelkus) te beweeg.

“Namate die vis deur die sentrale gebied gaan, teiken baie hengelaars hierdie visse, vandaar die nodigheid om hengelaars se daaglikse vangste tot twee volwasse silwer kabeljoue (nie korter as 70 cm in totale lengte nie) per hengelaar by die Paaltjies-omgewing te beperk.”

Die ministeriële woordvoerder het verder verklaar dat ingevolge die mariene regulasie 10 van 7 Desember 2001 word die oes van mariene hulpbronne vir ontspanningsdoeleindes in sommige gebiede deur die wet verbied.

“Enige persoon wat die bepaling van regulasie 10 oortree of versuim om daaraan te voldoen, sal gearresteer en aangekla word.”

Katjiukua het bygevoeg die ministerie sal deur sy streekkantoor voortgaan om vissery-inspekteurs te ontplooi om te verseker dat hengelaars by die viswette hou en hengelaars opvoed oor die belangrikheid van die beskerming van mariene hulpbronne.

“Namibië se mariene hulpbronne, insluitend binnelandse visserye, is ’n noodsaaklike bron van voedsel en werk en dra by tot die ekonomiese welstand van ons mense. Die ministerie bly dus daartoe verbind om die lewende waterhulpbronne volhoubaar te bestuur, tot voordeel van beide huidige en toekomstige geslagte.”

Die ministerie het ook ’n kennisgewing uitgereik dat sy sentrale kuskantore in Walvisbaai, Swakopmund en Hentiesbaai gedurende naweke en openbare vakansiedae van 1 Desember 2021 tot 31 Januarie 2022 weer oopmaak en ontspanningsvisvangpermitte sal uitreik.