Jesse pure perd in SA
15 December 2016 | Life Style
Jesse neem in die Westerse rystyl (“Western riding”) in nommers soos teuelkuns, hindernisklasse waar ''n perd deur versperrings moet beweeg en beeswerk (“ranch riding”) deel.
Jesse het pas sy tweede kampioenskap gewen. Dit was tydens ''n skou by Misty Meadows naby Cullinan in Suid-Afrika.
Die plekke wat hy in die kampioenskap behaal het, was beste vertoning deur ''n hings in die rykuns, eerste plek vir veldwerk, tweede plek vir vrye teuels, tweede plek vir ''n oop roete en algehele wenner in die afdeling vir Amerikaanse straatrenperde.
Jesse is die trots van die Desert Sky Quarter Horses op Karibib.
Jesse is besonder groot en het baie goed ontwikkel. In bouvorm staan hy in die stoetery nie terug vir perde wat twee tot drie jaar ouer as hy is nie.
Jesse is die eerste straatrenperd (“quarter horse”) wat uit ''n embrio-oorplanting in Namibië verwek is. Sy hings en merrie is albei van die Nederlande. Hy is een van net twee vullens van die merrie Par Dee Bar Smoke. Sy was nou in Mauritius en sou na die Nederlande terugkeer. Die hings se naam is Hollys Major Doc.
Die embrio is in een van Desert Sky se eie merries, Fresh Chestnut, oorgeplant en sy het die vul gedra en grootgemaak.
Jesse is ''n tipiese straatrenperd. Hy het ''n sonderlinge kleur-geen bekend as “dun”. Dit is nog taamlik skaars in Afrika. Die kleur is gesog onder Westerse ruiters. Sy kleur is ''n ligte vaalbruin met ''n donker streep op sy rug. Om sy bene het hy sebra-agtige strepe. Sy gesig is ook ''n donker masker. Sy bene is dik, reguit en gespierd. Sy geaardheid is kalm soos die van ''n egte werksperd.
Hy het reeds sy eerste seisoen saam met merries gehad. Jesse is ook die halfbroer van Cody, nog ''n straatrenperdvul in die stoetery.
Nog ''n perd met ''n storie in die stoetery is Mazel Tov. Hy was maar ''n dag oud toe sy ma op sy been getrap en die bobeen laat verbrokkel het. Die gebreekte been is stukkie vir stukkie met skroewe gelas en ''n spesiale eksterne stut is gebou om die been te ondersteun. Ná drie maande in die sorg van ''n veearts is die stut verwyder en was Mazel Tov saam met die ander perde terug in die stoetery. ''n Plaat en skroewe is steeds in die been.
Mazel is fris en gesond.
Mazel is ''n geregistreerde Amerikaanse straatrenperd met ''n klassifikasie as ''n “paint”.