Hoe pandemies eindig

Geskiedkundige deel kennis
Irene Van Der Walt
Swakopmund • [email protected]



Ná die rampspoedige jaar is die geduld vir ’n pandemie maar min en die mensdom is meer as gereed om hierdie onaangename hoofstuk af te sluit.

Erongo 24/7 het me. Nadine Phiri, die assistant kurator van die Swakopmund museum, gevra om haar kennis te deel oor hoe geskiedkundige pandemies tot ’n einde gekom het.

Phiri sê pandemies eindig nooit werklik nie, maar loop eerder dood. “Die enigste pandemies wat ons kon beëindig, is die rinderpes en pokke. Dit is gedoen deur die gebruik van ’n entstof wat die virus uitgeroei het. Die ‘Spaanse griep’ het net 15 maande geduur, maar daar was tussen 1920 en 1921 nog twee uitbrekings daarvan wat nie so wyd verspreid was soos die 1918-pandemie nie,” het sy gesê.

Phiri glo die mensdom se immuniteit teen virusse bou op en dat seisoenale uitbrekings daarvan dan die norm word.

“Die virusstam wat die SARS-pandemie veroorsaak het, bestaan steeds. Dit het net ligter geword en is waarskynlik nou ’n seisoenale griep. Dit is waarskynlik ook wat met Covid-19 sal gebeur.”

In Julie vanjaar sal die Covid-19-pandemie so lank soos die Spaanse griep geduur het. “Ek dink dit sal interessant wees om te sien wat in Julie in die wêreld aangaan,” sê Phiri.

Sy het ook daarop gewys dat meeste pandemies in die geskiedenis skielik tot ’n einde gekom het.

“Dit is een oomblik oral en die volgende oomblik is dit byna asof niks ooit gebeur het nie.”

Een eienskap wat Phiri glo hierdie pandemie nie met ander pandemies deel nie, is samesweringsteorieë.

“Ek skryf dit aan sosiale media toe. As jy daardaan dink, waar hoor jy al hierdie samesweringsteorieë? Ons word só met inligting gebombardeer wat nie altyd met mekaar ooreenstem nie,” het Phiri afgesluit.