Henties munisipale werker toets positief vir Covid
24 January 2021 | Health
Die munisipaliteit van Hentiesbaai is op 22 Januarie gesluit na ‘n personeellid positief getoets het vir Covid-19.
Volgens Elizabeth Coetzee, die munisipaliteit se uitvoerende hoof, is die geval gisteroggend aangemeld.
Die munisipaliteit het onmiddellik verseker dat die perseel ontruim word en dat die personeel by hul huise in isolasie geplaas is.
Die gemeenskap is in kennis gestel van hierdie verwikkeling en persone wat moontlik kontak met die geaffekteerde persoon gehad het, is geïdentifiseer.
Sewe persone sal hulself vir sewe dae tuis isoleer en is verantwoordelik om hulself te laat toets as hulle enige simptome opmerk.
Alle munisipale dienste, behalwe die verwydering van rommel en die pomp van septiese tenks, is gestaak totdat die gebou gesaniteer is.
Die munisipaliteit en munisipale dienste sal eers weer Maandag hervat. “Ons is gelukkig dat die Hentiesbaai gemeenskap ons situasie verstaan,” het Coetzee gesê.