English as beoordelaar vir Voice Perfect Namibia gekies
Weens Covid-19, word die sangkompetisie aanlyn uitgesaai.
07 July 2020 | Art and Entertainment
Monique English; Sanger; “Dit is opwindend om deel te wees van die soektog na sangtalent in Namibië.”
Die NAMA-benoemde vroulike kunstenaar van die jaar Monique English (25), is gekies as beoordelaar vir die aanlynsangkompetisie, Voice Perfect Namibia.
English het haar opgewondeheid oor dié prestasie gedeel.
“Ek is in ekstase om een van die beoordelaars te wees, gegewe meer as ’n duisend ander Namibiese kandidate sou gekies kon word. Dit is vir my ’n groot eer. Ek weet hoeveel talent Namibië het en om deel te wees van die soektog na sangtalent in die land, is baie opwindend.”
Die sangeres is ook in twee kategorieë benoem vir die NAMA’s wat later vanjaar in Swakopmund plaasvind.
Voice Perfect Namibia word weens Covid-19 aanlyn uitgesaai.
Volgens English, wat in die vroeër stadium van haar loopbaan aan verskillende sangkompetisies deelgeneem het, moet kunstenaars kritiek kan hanteer om in hul loopbaan te groei.
“Dit het my gehelp om as kunstenaar te groei. Mense het vir my uitgewys watter elemente in my musiek ek kan verbeter. Ek het dit alles ter harte geneem en stel voor dat wanneer iemand kritiek lewer op enige aspek van jou werk, jy dit moet gebruik om daarop te verbeter.”
Die “Red”-sangeres sê as beoordelaar sal sy alle aspekte van die kunstenaar in ag neem.
“Dit sluit in asemhalingstegnieke, die gebruik en beheer van sy of haar stem, sowel as die impak van ’n kunstenaar op die verhoog. Dit is alles deel van die ‘full package’ van ’n sanger wees,” het sy gesê.
English meen sangkompetisies is baie belangrik aangesien dit nuwe kunstenaars in die hoofstroom van die Namibiese musiekbedryf plaas.
“Ek het ook aan kompetisies deelgeneem. Dit is ook die geval vir Chikune en Ann Singer asook baie ander kunstenaars. Daar is verskeie sangers wat ek ken wat aan sangkompetisies deelgeneem het voordat hulle deel geword het van die Namibiese musiekbedryf. Dit gee gehore die kans om die kunstenaar en ook hul talent te leer ken. Ek glo sangkompetisies het ’n groot impak op kunstenaars se loopbane in die Namibiese musiekbedryf.”
Voice Perfect Namibia stel gereeld inligting op hul Facebook-blad en Instagram vry. Die kompetisie het ook ’n YouTube-kanaal.