Engen One Stop Usakos slaggereed
29 December 2020 | Business
Die immergewilde diensstasie word deur die entrepreneur Irene Simeon-Kurtz besit en is ’n strategiese halfwegstasie op die Trans-Kalahari-hoofweg en die tweede grootste werkgewer op die dorp - met 50 werknemers.
Simeon-Kurtz is van Usakos afkomstig en het ’n meestersgraad in internasionale sake, sowel as ’n honneursgraad in openbare beleid en regering.
“Motoriste weet hulle kan brandstof by ons kom volmaak, die olie- en banddruk nagaan terwyl passasiers hulle bene sterk en bietjie uitspan terwyl hulle van en na die kus reis,” sê sy.
Die diensstasie het oor die jare sy produkreeks en diensaanbiedinge aansienlik uitgebrei. Benewens brandstof, kan daar ook vars voorbereide etes, gebakte lekkernye en brood gekoop word. Die winkeloppervlak is vergroot, wat beteken meer produkte is nou beskikbaar.
Die handelsure vir die opgeknapte biltongwinkel is verleng tot 22:00 sodat kliënte nog tot laat toegang tot Namibië se gewilde biltong en chilli-bites het.
Bistro-lekkerte
Simeon-Kurtz is ook die eienaar van die Usakos Bistro wat sedert Junie 2020 in Theo Ben Gurirabstraat geleë is.
Heerlike ontbyt, middag- en aandetes word hier bedien. Die bekende Slowtown-koffiebone is hier beskikbaar, asook pizzas en ’n wye verskeidenheid yskoue lafenis om die dors te les.
Die bistro kan ook vir spesiale geleenthede soos matriekafskeidspartytjies, jaareindfunksies en verjaardae gehuur word.