Bonanzavis voed outehuis
Kleiner vangstes
Hentiesbaai • [email protected] Vanjaar se Hengelbonanza het ongeveer 720 hengelaars gelok.
Walter Kinnear Jr. het egter kop en skouers uitgestaan, met sy 16,125kg kabeljou wat hy by Myl 108 uitgetrek het en vir hom ‘n allemintige N$20 000 as die algehele wenner in die sak gebring het.
“Vandag was ‘n ideale dag vir visvang,” het hy gesê en sy uitsonderlike vangste nie net aan harde werk nie, maar ook aan gunstige viswaters toegeskryf.
“Die water was vandag ‘n bietjie vuil in teenstelling met die skoon water van die laaste tyd.”
Kinnear het sy bonanzavis aan ‘n Hentiesbaaise outehuis geskenk.
“Ek dink dit is ‘n goeie tyd en gebaar om dit vir die ou mense te gee,” het hy gesê.
Hy het in 2016 die Hengelbonanza se grootste roofvis gevang.
Vanjaag het Neels van der Walt N$500 hierdie kategorie gewen, met ‘n harder van 0,455 kg.
Van der Walt was oorspronklik gekant daarteen om hierdie vangs te laat inweeg vir die hengelbonanza, maar het op die raad van sy seun, Danré Mans, só gemaak.
Pieter Mouton het N$3000 ingepalm met sy galjoen van 1,545 kg. Kort op sy hakke was Johan Kotze en Johan Lambert. Kotze het sy galjoen van 1,280 kg by Jakkalsputz ingetrek en Lambert het sy 1,105 kg galjoen met witmossel aan die hoek gekry.
Robert Opperman het Mouton se prysgeld geëwenaar met die grootste dassie van die dag wat 1,280 kg geweeg het. Opperman het hierdie vis tussen Canopy en Kaap Kruis ingekatrol.
Wicky Baumgarten het teen middagete reeds sy wensteenbras van 7,265 kg ingeweeg, en hoewel dit met die inweegslag aanvanklik die bonanzavis was, sou Kinnear ongeveer ‘n uur later die uiteindelike wenvis inweeg. Baumgarten het egter steeds N$4000 in die sak gesteek vir die grootste steenbras.
Moses Iseb het by Maketo die kabeljou van 14,127 kg wat vir hom N$4000 in die sak besorg het, aan wal gebring.
Organiseerder Morné Horn was van mening dat vanjaar se vangste kleiner as die van verlede jaar was. Ten spyte daarvan, was hy nie teleurgesteld in vanjaar se kompetisie nie.
“Ek dink ons het goeie vis gehad, al was dit ‘n bietjie kleiner as laas jaar. Dit gaan mos maar so,” sê hy.
Pryse was vanjaar ook effens kleiner weens die ontrekking van die hoofborg.
“Ons kon nie ons prysgeld so groot maak nie, want ons moes plaaslike borge kry,” het Mark Nederlof verduidelik.
Horn het egter die hoop uitgespreek dat hy graag volgende jaar weer wil sien dat die pryse terugkeer na normaal.
“Ek dink ons moet weer die gewone tent opsit volgende jaar, mense soek dit. Ons het omtrent ‘n maand gehad om hierdie te reël, so ek dink dit was ‘n sukses,” het hy gesê.
Comments
Erongo
No comments have been left on this article