Beleef Afrika op unieke wyse
28 December 2020 | Business
Te midde van ’n gras groen oase, vind jy Omaruru Game Lodge.
Die stil bosveld-toevlugsoord is die perfekte plek om na weg te breek van die snelle pas van die hedendaagse lewe.
’n Unieke en wye verskeidenheid van wilde diere en die gepaardgaande natuurgeluide is aanvullend tot die gesellige en rustige atmosfeer wat besoekers met hul aankoms onmiddellik laat ontspan.
Omaruru Game Lodge se wildplaas beslaan 3 800 hektaar en is uniek in Namibië. Dit spog met van die hoogste aantal wildspesies, wat wissel van olifante, seekoeie, renosters, koedoes, waterbokke, sebra's, elande, blesbokke, volstruise, springbokke, blou- en swartwildebeeste, gewone en bedreigde swartneusrooibokke, vlakvarke, steenbokke, damara dik-dik, chacma-bobbejane tot ’n wye verskeidenheid van voëlspesies.
Die lodge is in die suidelike deel van die wildtuin geleë en bied 21 gemaklike rushuise. Elke kamer is toegerus met ’n stort, toilet, lugversorging, yskas en gemaklike beddens.
Die grasdak-rushuise van die lodge is onder palmbome geleë en ook rondom ’n groot watergat rangskik, waar ’n wye verskeidenheid van diere daagliks kom suip.
Die restaurantterras wat oor die watergat uitkyk, wemel saans van die dierelewe. Hier kan gaste ’n skemerkelkie en Afrika- en Europese kookkuns geniet terwyl hulle die diere in die omgewing besigtig. Jy kan selfs aan een van die renosters genaamd Tjuky of die kameelperd Sammy raak vir ’n ervaring soos min.
Twee jagluiperds woon in omheinde kampe van 3 hektaar en ’n luiperd is tuis in sy eie area. Die katte word elke dag om 18:00 ongeveer 4 kilogram vars wildsvleis gevoer en om hulle in lewende lywe te sien vreet, is ’n belewenis.
Sam Nuembo, die diere-opsigter en veldgids, werk al die afgelope tien jaar met die diere om hulle gemakliker met menslike interaksie te maak.
“Ons is trots daarop dat ons ekstra moeite doen om meer interaktief te wees met die diere wat hier woon. Dit maak die ervaring soveel meer onvergeetlik en opwindend.”
Die wildbesigtingsritte wat twee keer per dag aangebied word, bring ook besoekers in kontak met olifante.
Die lodgebestuurders, Carien Rowland, Connie Eises en Christine Borruso, het ’n wye en ook groot hoeveelheid kennis oor die wonders van die omgewing en doen saam met hul vriendelike personeel, baie moeite om te verseker dat gaste se wense bewaarheid word.