’n Koets vir ’n keiser

2021 Mercedes GLS 400d
Dirk Gallowitz
Die Mercedes-Benz GLS is die S-Klas van SUV’s. Dit versinnebeeld die toppunt van luuksheid, elegansie en gevorderde digitale tegnologie in ’n wêreldklas motor en kombineer dit met die beste karakter eienskappe en praktiese toepassings van ’n gedugte veldryer. In kort bied dit die beste van twee wêrelde op vier wiele.

Die GLS is Mercedes se grootste SUV en ding plaaslik mee met onder meer die BMW X7, Range Rover en dalk in ’n mindere mate, ook Toyota se nuwe 300 reeks Land Cruiser.

Die jongste modelreeks is nou reeds die derde generasie van hierdie uberluukse SUV en is ontwerp vir funksie eerder as met estetika in gedagte. Die stilering van voor gesien is grootliks dieselfde as die van die kleiner Mercedes GLE met die twee blink stroke wat parallel dwars deur die sierrooster loop en die prominente driepunt-ster in die middel geplaaste sirkel. Die LED ligte voor en agter dra by tot ’n varser voorkoms.

Agter is die agterlighulse en elektries beheerde agterklap ook herontwerp om ’n meer geronde en sagter voorkoms te verkry.

Ons toetsmodel was afgewerk in die opsionele AGM Line afwerkingspakket en het die meer sportiewe afwerking gekry waaronder groter luginlate in die voorste lugskort, die bulte op die enjinkap asook die reuse 315/40R21 breë bande agter. Met die AGM-Line afwerking en groot lae-profiel bande is daar egter geen uiterlike tekens van die GLS se uiters goeie veldryvermoës nie.

Kajuit en toerusting

Die GLS-reeks is uiteraard groot en die derde generasie is 77mm langer, 22mm wyer met selfs die wielbasis wat met 60mm gerek is vergeleke met die vorige model. Dit alles bied meer ruimte aan die sewe insittendes en bagasie. Terwyl die tweede ry sitplek aan drie passasiers sitplek bied, is daar slegs twee sitplekke in die derde ry. Hierdie sitplekke word elektries op- en afgeslaan na gelang van behoefte. Met die derde ry sitplekke platgevou bied die GLS ’n indrukwekkende 2400 liter laaispasie. Al die sitplekke in die GLS word elektries beheer.

Wat gerief en weelde betref, is die GLS gelykstaande aan die luukse S-Klas vlagskip weeldesedan in die Mercedes stal. Sagte, bykans oordadige leerafwerking in die hele kajuit met dik matte om die ambiaans van weelde te onderskraag, is treffend in die GLS.

Spasie in hierdie berig verhoed ons om ’n volledige inventaris van luukse items en addisionele gerieffunksies te lys, maar dit wat uitstaan is die twee 12.3” hoë definisie kleur raakskerms wat aan mekaar gevoeg is om ’n bykans surreële effek van ruimte tegnologie in die voorpaneel te skep. Die een skerm agter die stuurwiel is vir al die digitale instrumentasie, terwyl die ander een in die middel van die voorpaneel al die kommunikasie, klank, navigasie en die verskeie voertuig en ander gerief- en inligtingstelsels beskikbaar maak in groot volkleur beelde en ikone.

Weelde

Die verhitte en verkoelde voorste sitplekke bied ook etlike masseer opsies. Die dubbelsone klimaatbeheer bied verskillende opsies en daar is ook legio interne kleure en kleurkombinasies vir die agtergrond beligting wat veral in die donker ’n ongelooflike ambiaans van weelde skep. Mercedes se gesofistikeerde stem-interaktiewe stelsel MBUX met “Mercedes & Me” laat jou toe om verskeie funksies, parameters en klankopsies te verander terwyl jy bestuur. Ook die multifunksie stuurwiel bied opsies aan die bestuurder om klank, kommunikasie, aanpasbare spoedbeheer, ens met skakelaars op die stuurwiel te beheer.

Wat veiligheid betref, is die GLS aan die voorpunt van modern mobiliteit met gevorderde en hoogs tegnologiese aktiewe en passiewe veiligheidstelsels. Daar is onder meer Mercedes se “Driver Assistance Package Plus” en “Pre-Safe” waarskuwing en botsingmitigasie stelsels, omvattende lugsakbeskerming en uiters hoë vlakke van bakrigiditeit en strukturele beskerming, wat die GLS se insittendes uiters goed beskerm in geval van botsings.

Enjin en verrigting

Die Mercedes GLS 400d word aangedryf deur ’n 3.0-liter turbodiesel reguit 6-silinder enjin.

Ek moet erken dit is steeds my gunsteling dieselenjin en lewer 243kW maksimum verrigtingskrag met ’n indrukwekkende 700Nm maksimum wringkrag. Laasgenoemde sorg vir ongelooflike soepel verrigting vanaf lae enjintoere met die gevolg dat stadsry en ooppad toer ‘n absolute fees van rygenot word.

Die GLS is ’n groot wa en weeg nagenoeg 2,5 ton maar die enjin sorg steeds vir verstommende versnelling en die 0-100kpu lopie neem slegs 6,3 sekondes!

Krag word na al vier die wiele gestuur met behulp van Mercedes se supergladde 9G-tronic outomatiese ratkas. Mercedes se amptelike brandstofverbruik word aangegee as 7,9l/100km, maar na ons 10 dae met die koets oor verskillende roetes wat sand en grond ingesluit het en boonop ook ’n 2,2 ton wa en vrag rondgesleep het, was ons brandstofverbruik steeds gemiddeld 9,8l/100km. Die brandstoftenk van die GLS kan 90 liter diesel sluk as dit leeg is.

Die Mercedes GLS word gebou op ’n gerekte weergawe van Mercedes se nuutste MHA (Modular High Architecture) platform en danksy ’n onderstel en veerstelsel met die bystand van aanpasbare lugvering, is die rit, ongeag die meeste padoppervlaktes, ’n sublieme ervaring. Die kajuit is uiters goed geïsoleer teen enige pad-, enjin- of windgeraas. Dit maak die uiters goeie klankstelsel in die GLS nog meer indrukwekkend.

Die 2021 Mercedes GLS 400d soos getoets, is ’n begeerlike en indrukwekkende luukse SUV met ’n pryskaartjie wat daarby pas. Die ideale koets vir keisers, konings en dalk ook tenderpreneurs.