Wêreldvigsdag herdenk

Die mikpunt is om 90% van Namibië se inwoners teen 2020 vir MIV te toets.

05 December 2019 | Health

Walvisbaai • [email protected]


Walvisbaai se munisipaliteit het Vrydag saam met die res van die wêreld, Wêreldvigsdag herdenk onder die tema “Gemeenskappe maak die verskil”.

Tydens die geleentheid wat aangebied is ter ere van diegene wat weens dié siekte hul lewens verloor het en ook dié wat met die siekte leef, is gaste aangeraai om ten alle tye te weet wat hulle status is.

Die verpleegster Blantine Martin het tydens die geleentheid gesels oor die gesondheidsvoordele van manlike besnydenis, hoe belangrik dit is om vir MIV getoets te word, en hoe die gebruik van kondome die siekte kan verhoed.

Sy het ook gesê die burgemeester van Windhoek het in 2014 die Parys-verdrag namens alle Namibiese munisipaliteite onderteken.

“Die verklaring wil hê dat deelnemende stede teen 2020 90-90-90-teikens bereik. Dit verwys daarna dat 90% van alle inwoners MIV-toetsing moet ondergaan. Onder diegene wat positief toets, moet 90% behandeling ontvang en van dié wat behandel word, moet 90% se viruslading onderdruk wees.”

Ná die verdrag onderteken is, is dit aan alle ander munisipaliteite deurgegee om hulself daarvan te vergewis en het hulle dit later ook onderteken. Die burgemeesters is nou verantwoordelik om die Parys-verdrag in hul onderskeie dorpe ’n werklikheid te maak.

“Dit is veilig om te sê dat ons stadig maar seker die 90% mikpunt bereik,” het Martin gesê.