Vandale saai verwoesting

Kom inwoners duur te staan

11 February 2020 | Local News

Anita Kaihiva; Walvisbaai munisipaliteit; “Vandale heg geen waarde aan openbare bates nie.”

Walvisbaai

Die munisipaliteit van Walvisbaai het inwoners versoek om te help om voorvalle van vandalisme in die hawestad te voorkom.

“Vandalisme hou groot gevare vir inwoners en besoekers in. Dit plaas die veiligheid van padgebruikers in die gedrang en plaas ekstra druk op die munisipaliteit se hulpbronne. Duisende dollar word gebruik om beskadigde padtekens te herstel of te vervang,” het me. Anita Kaihiva, die munisipale skakelbeampte, gesê.

Sy het bygevoeg daar is altyd ’n beduidende toename in vandalisme in Desember. Die koste van skade verhoog aansienlik tydens die feesseisoen.

“Altesame 240 verkeerstekens en 91 straatnaamborde is gevandaliseer. Boonop het nog 47 verkeersborde en 152 straatnaamborde ook in Desember verdwyn,” het sy gesê.

Dit het die munisipaliteit bykans N$130 000 gekos om gevandaliseerde straatnaamborde in Desember 2017 te vervang. Dié bedrag verteenwoordig 70% van die totale uitgawes vir daardie maand. Kostes het die herinstallering van borde, pale en arbeid ingesluit.

Volgens Kaihiva sal die munisipaliteit nagenoeg N$205 000 moet opdok om die skade te herstel wat die afgelope vakansieseisoen aangerig is.

Tussen 80 en 100 padtekens word elke maand vervang en die koste word indirek van inwoners verhaal.

“Vandale heg geen waarde aan openbare bates nie. Dit wil ook voorkom asof diegene wat hulle skuldig maak aan dié misdrywe nie besef dat dit ’n kriminele daad is nie. Intussen moet inwoners opdok.”

Kaihiva het die publiek herinner aan die strawwe vir vandalisme.

“Vandale kan ’n boete van N$300 of ses maande se tronkstraf opgelê word. Die boete verhoog na N$2 000 as die beskuldigde in die hof skuldig bevind word.”

Sy het gemeenskapslede aangemoedig om hul omgewing fyn dop te hou en voorvalle van vandalisme by die naaste polisiekantoor aan te meld. Foto’s of video’s van sulke oortredings kan na 081 128 3238 gestuur word.