Vandale pluk uitkykpunt se vere

Infrastruktuur tot niet

03 August 2021 | Local News

Anita Kaihiva; Walvisbaai-munisipaliteit; “…met verloop van tyd het inwoners die meeste van die infrastruktuur gevandaliseer en gesteel.”

Meer as N$1 miljoen is belê in die Bird Paradise-projek wat sowat 1,3 km vanaf die Walvisbaai-sirkel en teen die C14-pad na die internasionale lughawe geleë is

Die fasiliteit, wat bestaan het uit 'n klein kantoor en parkeerterrein op die 20 hektaar vleiland waar sowat 20 000 voëls bly, is egter onlangs ­permanent deur die munisipaliteit gesluit.

Met die oprigting van die strukture in 2011, is die Bird Paradise as nie net nog 'n gemeenskapsgebaseerde toerismeprojek afgemaak nie. Dit sou 'n sentrum word waar plaaslike jeugdiges opgelei en bewus gemaak moes word oor omgewingsbewaring.

Die verwagting was ook dat die fasiliteit uitgebrei sou word om plaaslike klein ondernemers in te sluit sodat hulle hul handwerk en aandenkings kon uitstal en verkoop, terwyl besoekers lekkernye en drinkgoed geniet.

Van al dié drome en doelwitte het egter dadels van gekom.

Vandalisme

Mej. Anita Kaihiva van die Walvisbaai-munisipaliteit se afdeling vir openbare betrekkings en kliëntediens het op navraag gesê die instansie is deur 'n gemeenskapsgroep gebruik om handwerk te verkoop en voëlbesigtigingstoere vir toeriste en skoolkinders na die kunsmatige vleiland te bied.

“Die afgelope drie jaar word die fasiliteit nie ten volle benut nie, en met verloop van tyd het inwoners die meeste van die infrastruktuur gevandaliseer en gesteel.

“Die raad het besluit om die oorblywende infrastruktuur te verwyder en dit aan ander departemente aangebied waar dit nodig was en waar dit die beste gebruik kan word voordat alles gesteel is.”

Kaviha het beklemtoon Bird's Paradise is nie deur die raad gesloop nie.

Die inisiatief wat begeleide toere, 'n verversingspunt en 'n magdom inligting oor die voëlspesies en flora in die omgewing gebied het, is sedert sy totstandkoming deur die Namibiese kusbewarings- en bestuursprojek (Nacoma) gefinansier met die steun van die munisipaliteit van Walvisbaai en die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme.



Omstrede

Mnr. Christy Anieb het in 2014 aangevoer Nacoma het sy idee gekaap.

Hy het destyds sy verbasing uitgespreek dat die Wêreldbank na bewering N$1 miljoen vir die projek aan die omgewingsministerie beskikbaar gestel het en dat Nacoma dié geld namens die ministerie sou bestuur.

“Die idee om 'n voëluitkykpos en bewaringskamp op Walvisbaai te vestig, het in 2001 by my posgevat. Ek het dit geformuleer ná 'n besoek aan die voormalige voëlparadys nadat ek besef het die rioolwaterdamme in die omgewing lok die voëls,” het hy gesê.

Die munisipaliteit het die projek in 2007 goedgekeur en twee hektaar grond in die omgewing van die rioolwaterdamme toegeken.

Volgens Anieb het Nacoma ondernemings genooi om voorstelle en aansoeke vir subsidies in te dien, en hy het daarop gereageer. Sy voorstel is goedgekeur en N$450 000 is aan hom toegeken.

Die konsultant mnr. Wolfgang Schenk het 'n uitvoerbaarheidstudie gedoen wat bepaal het dat Anieb se projek lewensvatbaar is en dit sal hom kan onderhou en 'n aansienlike inkomste lewer.

In 2010 het Nacoma aan Schenk bevestig die organisasie het hom in beginsel daartoe verbind om Anieb Bird Watching Camp cc Venture te ondersteun om wagtorings, voëlhuise, paadjies en rusplekke te ontwikkel, te bou en in stand te hou met die doel om begeleide voëlbesigtigingstoere te bied en leerlinge te leer oor die verskeidenheid voëlsoorte wat in die sentrale kusstreek van Namibië voorkom.



Eienaarskap in gedrang

Anieb het verder aangevoer hy was op die punt om eienaarskap van die projek te neem toe Nacoma skielik sy dienste beëindig en hom van die perseel verwyder het.

'n Week voor hy die projek amptelik sou oorneem, het hy 'n kennisgewing ontvang dat 50% van die inkomste uit die projek wat hy as 'n onderneming geregistreer het, aan die munisipaliteit of aan die gemeenskap betaal moet word. “Dit was nooit deel van die aanvanklike ooreenkoms nie,” het hy aangevoer.

Nacoma het hom glo aangeraai om Dawid Uushona van die munisipaliteit van Walvisbaai aan te stel as medeondertekenaar van die rekening van die onderneming wat hy gestig het.

Toe hy weier om dit te doen en voorstel om sy eie rekenmeester as medeondertekenaar aan te stel, het Nacoma die gebied gekonfiskeer, die projek gekanselleer en dit by hom oorgeneem.