Toerismesektor verheug oor blitstoetse vir reisigers

Drankverkope nou Maandag tot Saterdag om 22:00

07 April 2021 | Tourism

Windhoek ∙ [email protected]



Die toerismesektor is verheug dat ’n negatiewe uitslag in Covid-19-blitstoetse vir reisigers nou vir deurgang by grensposte aanvaar word.

“Negatiewe uitslae in blitstoetse vir inkomende reisiters sal by grensposte van Namibië aanvaar word,” het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, onlangs aangekondig.

“Gereelde reisigers wat binne drie dae ná hul vertrek uit Namibië weer terugkeer, word ook toegelaat om die land weer binne te kom met ’n negatiewe PCR- of blitstoetsuitslag wat met hul vertrek gebruik is,” het hy gesê.

Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, sê die blitstoetse verander die speelveld vir toerisme.

“Ons is verheug oor die blitstoetse wat dit vir toeriste makliker maak om die land binne te kom,” het sy gesê.

“Wat nog beter sal wees, is as die blitstoetsgeriewe ook in die toekoms by grensposte en lughawens beskikbaar sal wees.”

Die uitvoerende hoof van die Namibië Professionele Jagtersvereniging (Napha), me Tanja Dahl, beaam dat die blitstoetse dit makliker vir toeriste en jagters sal maak om Namibië te besoek.

“Enige opsie om toeriste op 'n makliker manier te verwelkom as die vorige 12 maande word deur die sektor hoog op prys gestel,” sê Dahl.

Die voorsitter van die Toer- en Safarivereniging van Namibië (Tasa), me. Nathaly Ahrens, sê nou moet Namibië nog net die inentings so vining as moontlik laat gebeur.

“Dink net watter aantrekkingskrag sal Namibië as toeristebestemming hê as ons die meerderheid van ons bevolking kan inent. Met twee miljoen inwoners behoort dit nie te moeilik te wees nie.”

Volgens Shangula hoef terugkerende Namibiese burgers of diegene met permanente verblyfreg met ’n sertifikaat van ontslag uit isolasie van die land van hul vertrek, ook nie meer onder kwarantyn geplaas word nie, ongeag die status van hul uitslae.

“Nie-Namibiërs moet ’n negatiewe PCR- of blitstoetsuitslag toon.”

Shangula sê Namibiërs wat oorsee studeer, hoef ook nie vir ’n Covid-19-toets te betaal as hulle die land binnekom of vertrek nie, maar bewys moet gelewer word dat hulle oorsee studeer.

Nog ’n aankondiging gister wat die gasvryheidsbedryf raak, is dat dranklisensiehouers alkohol tot 22:00 op Maandae tot Saterdae mag verkoop.

“Geen alkoholverkope word steeds op Sondae of openbare vakansiedae toegelaat nie,” het Shangula gesê.

Paetzold sê die toerisme- en gasvryheidsbedryf is ook bly oor die klein verligting in die verkoop van alkohol, “alhoewel ons sou verkies het om Sondae ook by ’n restaurant te mag sit en wyn saam met ons ete te geniet”.

Die nuwe Covid-19-regulasies geld tot 30 April.