Swakopmund kry borsmelkbank

Borsvoedingsyfers kwyn

23 February 2021 | Local News

Dr. Sebastian Gericke, Pediater; “Voeding in die eerste twee jaar kan verreikende gevolge hê.”

Swakopmund • [email protected]





Volgens statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) borsvoed minder as 20% van nuwe ma’s, vertel die Swakopmundse pediater, dr. Sebastian Gericke. Hy is aangespoor om ’n borsmelkbank op Swakopmund te open aangesien vroeggebore babas slegs borsmelk kan drink.

“Voeding in die eerste twee jaar kan verreikende gevolge hê,” sê Gericke wat vertel dat borsmelk gekoppel is aan ’n hoër intelligensiekwosiënt (IK), groei en immuniteit.

Alhoewel dit weinig gebeur dat ma’s nie hul babas kan borsvoed as gevolg van mediese redes nie, meen Gericke kulturele aspekte asook die media se opvatting van formulemelk as ’n alternatief tot borsvoeding, speel ’n groot rol in die kwynende syfers van borsvoeding.

Die grootste bydraende faktor tot hierdie gebeurtenis is dat die ma’s moet terugkeer na werksomgewings wat nie toegerus is vir borsvoeding nie.

In die geval van vroeggebore babas, kan die ma’s gewoonlik nie borsvoed nie, omdat hulle van hul babas geskei moet word - vir hul eie of hul baba se gesondheid.

Borsmelk het ’n raklewe van slegs ’n paar dae wanneer dit in ’n yskas verkoel word, maar Gericke sê geskenkte borsmelk kan gevries word en kan tot 6 maande lank bruikbaar wees.

Skenkers betaal nie om borsmelk te skenk nie en kan slegs ’n glas- of BPA-vrye plastiekhouer gebruik en hul borsmelk daarin bêre en dit na Gericke se spreekkamer by Mediclinic Swakopmund bring.

Die melk word vir algemene oordraagbare siektes soos MIV/vigs en hepatitis B getoets. ’n Antibakteriële telling word gedoen om te sorg dat die borsmelk nie bakterie na die babas oordra nie, aangesien dit baie gevaarlik vir vroeggebore babas kan wees.

Skenkers sal ’n paar vrae moet beantwoord om te verseker dat hul leefstyl nie hul borsmelk affekteer nie.

“Ons kyk vir seksuele risiko’s, dwelmmisbruik en sekere medikasies wat borsmelk kan beïnvloed,” sê Gericke.

Alhoewel die borsmelkbank steeds in sy kinderskoene is, droom hy dat dit ’n professionele diens sal word wat landswyd versprei kan word.

“Ek sal graag wil sien dat hierdie iets is wat ons aan alle babas kan lewer,” sê Gericke.