Skuiling vir dierevriende

Splinternuwe omgeeplan

11 February 2020 | Local News

Donna Collins; Stigter; “Dit is beslis ’n goeie begin vir ons en die diere.”

Swakopmund • [email protected]







Donna Collins is geen vreemdeling wanneer dit kom by hulpverlening aan diere nie.

Met die koms van die nuwe jaar het sy die “buitebandbed”-projek aangekondig.

Dié hondebeddens word gemaak deur ’n ou motorband in die lengte en in die helfte deur te sny, waarna die oorblywende gat oorgetrek word. Binnein word ’n kombers geplaas vir gemak en beskerming teen die koue.

“Ons is op die oomblik besig om aan die proses te skaaf en dit te verfyn. Ons wil graag vasstel wat die beste manier gaan wees om die bande te gebruik,” sê Collins.

Hierdie inisiatief vervang nie die Township Doghouse-projek waarby Collins ook betrokke is nie.

“Die doel is eenvoudig om ’n bekostigbare alternatief te bied vir honde wat buite en sonder skuiling slaap,” verduidelik sy.

Sedert die projek se ontstaan, geniet Collins die ondersteuning van Walvisbaai se Dierebeskermingsvereniging (DBV), wat buitebandbeddens vir diere in hul sorg bestel het.

“Dit is beslis ’n goeie begin vir ons en die diere,” sê Collins oor die dierehuisies.

’n Skenking van ou bande deur Dunlop Swakopmund verlaag die produksiekoste aansienlik en het Collins en haar span instaatgestel om die projek te verwenslik.

“Ons maak staat op skenkings. Dunlop voorsien die bande en die komberse word geskenk. Ons betaal slegs die skrynwerkers vir hul arbeid. Dit is nie net die diere wat daarby baat nie, maar die skrynwerkers by die straatmark verdien ook ’n klein inkomste. Dit gaan alles oor die verbetering van toestande in die gemeenskappe waarin ons woon,” sê Collins.