Skool termyne vir 2021 bekend gemaak

21 November 2020 | Education

Skole open aanstaande jaar vir die eerste termyn op 11 Januarie en sluit weer op 23 April.

Dit is 71 skooldae en sluit die vakansiedag op 22 Maart (Onafhanklikheids­dag) en die Paasnaweek (2-5 April) in.

Volgens die ministerie van onder­wys, kuns en kultuur duur die tweede termyn van 26 Mei tot 13 Augustus (58 dae) en sluit die vakansiedag op 16 Junie (Dag van die Afrika-kind) in.

Die derde termyn begin op 1 September en duur tot 3 Desember (67 dae) en sluit die vakansiedae op 28 September (Dag van die Namibiese kind) en 5 Oktober (Internasionale Onderwysersdag) in.

Die drie termyne het 'n totaal van 196 skooldae.