Só kweek Baainaars hul eie kos

‘n Oplossing vir hongersnood

30 June 2020 | Agriculture

Immanuel Wilfred; Burgemeester; “Ons moet vandag begin sodat ons ’n verskil in ons gemeenskappe kan maak.”

Walvisbaai





Covid-19 het ’n groot impak op Walvisbaai aangesien dié ergste deur die pandemie geraak is.

Daarmee saam gaan inwoners van die hawedorp deur ’n moeilike tyd, met werkverlies en ’n verkleinde inkomste wat tot hoër vlakke van armoede en honger lei.

Voedselsekuriteit is ook in gedrang weens die Fase 1-inperkings wat gelei het tot ’n verder afname in die plaaslike ekonomiese klimaat.

In hierdie luim het die munisipaliteit van Walvisbaai en Good Food Namibia, verlede week ’n tuinbouprojek van stapel gestuur as ’n maatreël om inwoners te help om hulself te onderhou.

Die inisiatief is daarop gemik om lede van die plaaslike gemeenskap en ook gemeenskappe as geheel te bemagtig om van die gevolge van Covid-19, soos voedseltekorte, ietwat te verlig. Dit word gedoen deur inwoners toe te rus met die vaardighede en kapasiteit om groentetuine in hul agterplaas te vestig en te versorg.

Die projek het 150 inwoners van die Erongostreek bevoordeel met die eerste projekte wat op Walvisbaai, Swakopmund en Okombahe bekend gestel is.

Hierdie inisiatief het dit voorts ten doel om “stedelike landbou” te bevorder deur inwoners aan te moedig om hul eie kos in hul agterplaase te kweek.

Namibië voer na raming 65% van sy voedselbehoeftes in.

Walvisbaai se burgemeester, Immanuel Wilfried, het die belangrikheid van voedselsekuriteit beklemtoon en die lof gesing van lede van die gemeenskap wat ’n rol wil speel in die handhawing van hul eie welstand.

“Voedselsekuriteit het nou in Namibië sterk op die voorgrond getree. Ons moet vandag begin sodat ons ’n verskil in ons gemeenskappe kan maak. Inwoners moet vaardighede aanleer en beoefen om hulself en ander rondom hulle te bemagtig. Vir diegene wat vandag hier baat gevind het, gaan en leer ander ook,” het hy gesê.

Demonstrasies oor die voorbereiding van grond, die uitplant van saailinge, die instandhouding van ’n laekoste-waterstelsel en die versorging van die plantjies is gedoen. Die begunstigdes het dus praktiese kennis ontvang oor die proses om groentetuine te begin en instand te hou.

Begunstigdes het saailinge gekry om te plant, kompos asook basiese opleiding vir die versorging van die plante, wat deur Good Food Namibia geborg is.

Meganismes is ook ingestel om die tuine te monitor en meer saailinge sal versprei word na begunstigdes wat suksesvol is met hul tuine.

“Ons gaan opvolg om te sien hoe goed die begunstigdes met hul tuine vaar, en dié wat goed vaar, sal meer groente-saailinge kry om hul tuine uit te brei. Ons wil sien dat hulle volhoubaar word in die vervaardiging van hul eie kos. Ons hoop is dat elke Namibiër ’n tuin in hul agterplaas sal hê,” het Manfried Likoro van Good Food Namibia gesê.

Lede van die publiek wat daarin belangstel om deel te neem, kan Lelanie Coetzee by 064 201 3268 of [email protected] kontak.