Prokureurs span saam teen geslagsgeweld

Beleggingsgeleenthede

22 October 2019 | Local News

Swakopmund • Otis Finck



'n Regspraktisynsfirma op Swakopmund, Ellis Shilengudwa Incorporated (ESI), in samewerking met die Lindi Prinsloo Trust, die Janet Martin-liefdadigheidsorganisasie en die vroueregte­aktivis Claudia Lofty-Eaton van Ramos Realtors wil 'n regskliniek begin.

Slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (vroue, kinders en mans) sal op Woensdae gratis regsadvies kry oor hul regte en wat hulle moet doen om hulself teen mishandeling te beskerm.

ESI spog met van die land se mees ervare regsgeleerders. Adam Labuschagne, 'n terapeut wat werk met slagoffers van geslagsgeweld en dwelmmisbruik, het die Lindie Prinsloo Trust met die firma se hulp gestig en sodoende het dié bewus geraak van die probleem.

'n Werknemer van ESI, Elzanne Wylie, het gesê die prokureurs bespreek die afgelope weke 'n oplossing vir die pandemie van geslagsgeweld wat die land, en spesifiek die Erongostreek, teister.

“Ons het besluit om Woensdae af te staan aan 'n inisiatief waarmee slagoffers van gesinsgeweld en geslagsgeweld een van ons prokureurs kan kom spreek en hulself vergewis van die hulpmiddels tot hul beskikking. Ons hoop om meer regsgeleerdes aan boord te kry en die inisiatief na ander dele van die land uit te kring.”

Volgens Wylie doen hul departement wat vroue- en kindergeweldsake hanteer uitstekende werk. Tog is daar 'n groot behoefte vir toegang tot suiwer regsadvies vir mense wat onseker is oor 'n saak en wat die prosedures is.

“Die wetgewer het die howe baie toeganklik gemaak vir weerlose mense. Mense het nie noodwendig altyd 'n prokureur nodig om 'n saak aan te voer nie. Baie weet dit egter nie. Daar is wel stappe wat gedoen moet word om 'n saak reg te registreer. Ons wil gratis met sulke mense konsulteer, op 'n anonieme basis, en raad gee.”

Die regsfirma het egter nie die kapasiteit om elke saak namens die persoon verder te voer nie.

“Ons kan wel raad verskaf en vir mense wat nie weet of hulle wel opsies het nie, die nodige inligting gee sodat hulle kan besluit wat om te doen, en stappe in die regte rigting te doen. Adam sal ook beskikbaar wees tydens die sessies om ondersteuning en hulp te bied waar nodig.”

Die onderburgemeester van Walvisbaai, Penelope Martin-Louw, het vroeër aangedui 'n aankondiging oor die inisiatief gaan môre gemaak word by die amptelike afskop van die spele vir wetstoepassers op Swakopmund. Sy het ander lede van die regsgemeenskap uitgedaag om by die beplande inisiatief aan te sluit.

Martin-Louw het oortreders wat hulle skuldig maak aan geslagsgeweld, gewaarsku dat hul slagoffers behoorlike raad gaan kry en toegerus gaan word oor hoe om teen hulle op te tree.

“Jou tyd van dink dat jou weerlose slagoffer vir ewig bang en onkundig gaan bly, is verby. Die sinnelose geweld waaraan jy jou skuldig maak, sal tot 'n einde kom. Die golf van geslagsgebaseerde geweld wat teen vroue en kinders in die land gepleeg word, is 'n bedreiging vir ons vreedsame en stabiele demokrasie.”

Martin-Louw het bygevoeg dat die regering ook deur gemeenskapslede en leiers versoek gaan word om 'n verpligte vak op laerskool aan te bied waarmee jong mans die basiese beginsels van respek vir hulself en meisies sal aanleer. Dieselfde geld vir meisies.

“Ons glo dis die enigste langtermyn­oplossing wat die bose kringloop van geslagsgeweld sal keer. Die vrede en stabiliteit van Namibië word toenemend bedreig deur geslagsgeweld in ons samelewing en is endemies. Dit het eintlik so algemeen geword dat sommige mense dit as die norm be­skou. Dit word wyd verdra en aanvaar, eerder as bestry,” het sy gesê.