Pophuis help met stryd teen kanker

Te danke aan hierdie skenking is die las wat kankerlyers wat chemotherapie ondergaan, ietwat verlig_

01 November 2019 | Local News

Martha Swart; pophuis-restoureerder; “Hy het eintlik net ’n kaartjie gekoop om die inisiatief te ondersteun”

Swakopmund • Iréne-Mari van der Walt

Die Lionsklub op Swakopmund het onlangs N$20 000 aan dr. Merwena Basson geskenk om haar praktyk se kankerpasiënte wat behandeling daar ontvang, te help.

Basson het in Februarie 2006 by wyle dr. Wotan Swiegers begin praktiseer en het sedertdien die praktyk gekoop. “Onkologie was nog altyd iets wat ek wou najaag,” sê Basson.

Voorheen moes kankerpasiënte na Windhoek reis om chemotherapie te ontvang. “Dit is moeilik vir pasiënte om na Windhoek en terug te reis. Behalwe vir reëlings met vervoer en verblyf, voel hulle soms sleg ná die chemo, so dit maak dit baie onaangenaam.”

Basson sê chemotherapie behandeling op Swakopmund het “elke 2 of 3 maande” met een pasiënt begin, maar het dit intussen gegroei om elke Dinsdag en Donderdag vyf pasiënte te akkomodeer. Sy voeg by hoe ironies dit is dat sy self nou by die praktyk chemotherapie moet ontvang. “Nou is ek ook ’n pasiënt,” sê sy.

Die geld wat oorhandig is, is te danke aan ’n plaaslike tombola wat deur die Lions aangebied is en waarin ’n Franse pophuis gerestoreer en as prys aangebied is.

Martha Swart was vir die restourasiewerk verantwoordelik en sê dit was die lekkerste ding wat sy in haar lewe nog gedoen het. Sy voeg by dat die wenner van die gelukstrektrekking stomgeslaan was oor die nuus dat hy die pophuis gewen het.

“Hy het niks gehad om met die pophuis te doen nie en gesê hy het eintlik net ’n kaartjie gekoop om die inisiatief te ondersteun. Hy het voorgestel ons moet ’n volgende wenner trek.”

Dié gelukkige kaartjie behoort aan die plaaslike eiendomsagent Susan Curtis, wat die prys met ope arms verwelkom het.