Operasie Kalahariwoestyn slaan hard

Misdadigers moet ligloop

03 September 2019 | Crime

Die teenmisdaadveldtog Operasie Kalahariwoestyn werp vrugte af.

Lede van die polisie, weermag, korrektiewe dienste, munisipale verkeersdienste en gemeenskapspolisiëring-forums was die afgelope naweek druk besig op Karibib, Omaruru, Swakopmund en Walvisbaai. Mense en voertuie is onder meer voorgekeer en deurgesoek.

Verskeie drankwinkels is besoek en talle eienaars het finale waarskuwings gekry weens die speel van harde musiek buite hul ondernemings.

Die polisiebeampte verantwoordelik vir gemeenskapspolisiëring in die Erongostreek, ao. Ileni Shapumba, het bevestig daar is in Mondesa op tien sakmesse en 'n pistool beslag gelê.

Daarbenewens is twee mense gearres­teer vir die besit van dwelms. Tien mense is Saterdag aangekla omdat hulle die padreëls oortree het. 'n Persoon is by 'n sjebeen in Mondesa met 'n skerp voorwerp gesteek, terwyl 'n ander een tydens 'n voorval van huishoudelike geweld in Narraville met 'n mes gesteek is.

“Ons doen 'n beroep op mense wat alkohol drink om verantwoordelik op te tree. Alkoholverwante misdade en huisbrake is steeds ons grootste bekommernis in gebiede soos Kuisebmond en Mondesa,” het Shapumba gesê.

Hy het ook 'n waarskuwing gerig aan mense wat gesteelde goedere koop, en gesê daar is tweedehandse handelaars wat hulle daaraan skuldig maak. “As jy gesteelde goedere koop, is jy medepligtig aan 'n misdaad.”

Shapumba het motoriste versoek om by die padreëls te hou en te sorg dat hul voertuie padwaardig is.

“Bestuurders moet veral op die pad tussen Arandis en Usakos versigtig wees. Die pad is nie baie breed nie en dit maak dit gevaarlik,” het hy gesê.

“Gebruik karstoeltjies vir babas en kinders. Ons besef dit kan 'n uitdaging wees vir mense wat van openbare vervoer gebruik, maar kinders mag nie op iemand se skoot vervoer word nie.”