Onderwysfonds op die voorgrond

Aansoeke is reeds oop

28 September 2021 | Education

Elizma Theron; Bestuurder, Netwerk Namibië; “Daar is beslis 'n behoefte aan gehalte- Afrikaansonderwysers in Namibië.”

Swakomund • [email protected]



Die Rapport Onderwysfonds (ROF) is weer eens vanjaar oop vir Namibiese aansoeke en daarvan is daar geen tekort nie.

Volgens Elizma Theron, die ­bestuurder van Netwerk Namibië, het die aansoekgetalle van 21 tot 185 vanaf verlede jaar tot hierdie jaar gestyg.

Sy sê daar is geen vasgestelde aantal Namibiese studente wat leningsbeurse sal ontvang nie, en dit sal heeltemal afhang van wat beskikbaar is.

Die aansoeke sluit op 30 ­September. Netwerk Namibië is gestig met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en kultuur voor oë en fokus grootliks op Afrikaanse moedertaalonderrig.

“Daar is beslis 'n behoefte aan gehalte Afrikaansonderwysers in Namibië,” sê Theron.

Wyle Nico Tromp het oorspronklik hierdie inisiatief gedryf.

Herman Beyer, die president van die Professionele Vereniging vir Afrikaans-taalonderrig in Namibië (PVATN), stem saam opgeleide Afrikaansonderwysers is broodnodig in Namibië.

“Dis baie duidelik daar is 'n baie groot behoefte in Namibië vir ge­kwalifiseerde Afrikaansonder­wysers as jy net kyk na die poste wat geadverteer word,” sê Beyer.

Hy meen Afrikaansonderwysers is noodsaaklik vir die oorlewing van die taal en kultuur.

“Wat skoolhoofde doen as hulle nie 'n gekwalifiseerde Afrikaans­onderwyser kan kry nie, is hulle neem iemand in diens wat Afrikaans kan praat, maar in 'n ander vak spesialiseer. Só verswak die gehalte van die taal of hulle faseer heeltemal die vak uit.

“Ons moes baklei om ons studente in die klas te hou, omdat baie studente nog voor hulle hul studies voltooi het, by skole as onderwysers ingetrek word,” sê Beyer.