Nissan Walvisbaai en Swakopmund smelt saam

’n Bekende motorhandelaar het aangekondig dat sy tak op Walvisbaai gaan sluit.

31 July 2020 | Business

Charles McGarry; Pupkewitz Nissan Swakopmund takbestuurder; “Die afgelope tyd was dinge by die Walvisbaai-tak stadig en Covid-19 het dit net vererger.”

Swakopmund • [email protected]


Pupkewitz Nissan op Walvisbaai is die jongste slagoffer van massa-afdankings en die sluiting van besighede in die tyd van Covid-19.

’n Werknemer wat onder voorwaarde van anonimiteit gesels, meen die motorhandelaar se tak op Walvisbaai is al lank in die rooi. Volgens dié persoon toon die tak reeds die afgelope ses tot sewe jaar swak verkoopsyfers.

“Hulle was vir lank in resessie en het al ’n paar keer verliese getoon. Die Swakopmund- en Walvisbaai-tak smelt nou saam om kostes te bespaar in terme van die huur van ’n eiendom, personnel en dies meer.“

Die bron sê verder daar word beplan om voertuie by kliënte op Walvisbaai te gaan haal en weer terug te besorg wanneer dit gediens moet word.

“Ons hoop dit sal nie ’n impak op ons besigheid by die kus hê nie. Dit is beslis ’n aanpassing,” sê die bron wat optimisties is oor wat die nuwe Swakopmund-tak bied.

Charles McGarry, takbestuurder van Pupkewitz Nissan Swakopmund, meen die verandering sal vir klante meer gerief bied.

“Dit is ’n veel groter tak, dus kan ons nou ’n wyer verskeidenheid bied. Alles is groter. Ons kan so te sê nou aan die kus bied wat Windhoek se tak in daardie area bied.”

McGarry stem saam dat besigheid op Walvisbaai aan die skraal kant was nog voor die Covid-19 pandemie sy verskyning gemaak het.

“Die afgelope tyd was dinge by die Walvisbaai-tak stadig en Covid-19 het dit net vererger.”

Vyf werknemers van Pupkewitz Nissan Walvisbaai werk nou by die tak op Swakopmund. Die ander personeellede is ongelukkig hul werk kwyt.

McGarry meen die herstel van besighede oor tyd sal geskied.

“Ek dink dit gaan stadig opbou. Ons sal nie oornag weer op dreef kom nie, veral omdat Swakopmund met vakansies en toerisme assossieer word. Ek dink ook nie toerisme sal in die volgende ses tot tien maande verbeter nie.”