NHE oorhandig 72 huise op Karibib

Meer huise word beplan

02 November 2021 | Infrastructure

Natalia /Goagoses; Adjunkminister; “Kom ons doen ons deel om regeringspogings te ondersteun om haweloosheid te beveg...”

Swakopmund • [email protected]



Die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE) het onlangs 72 huise aan inwoners van Karibib oorhandig.

“Die NHE is die verantwoordelikheid opgelê om 300 huise vir die eerste fase van hierdie projek te bou en dusver is 80 voltooi en aan eienaars oorhandig,” het Sam Shivute, die NHE se direksievoorsitter, gesê.

Volgens Shivute is die NHE se doelwit om 47 662 huise teen 2030 in Namibië te bou. Hy het bygevoeg die NHE is daartoe verbind om gesonde gemeenskappe te skep met die voorsiening van bekostigbare, goed ontwerpte huise vir die groei en ontwikkeling van lae- en middel-inkomstegesinne wat dit moeilik (en soms onmoontlik) vind om huise te bekom wat deur private ontwikkelaars gebou is.

Die NHE het sy strategiese inisiatiewe in lyn gebring met die regering se beleidsraamwerke rakende die lewe­ring van behui­sing in Namibië, het Shivute beklemtoon.

“Hierdie beleid word deur die regering ondersteun met behuising as een van die ontwikkelingsprio­riteite. Dis om te verseker daardie huishoudings wat uitgesluit is van die mark en konvensionele mega­nismes vir behuisingsontwikkelings, verkry toegang tot grond, behuising en dienste, terwyl 'n bevorderlike omgewing vir 'n gesonde huismark geskep word.”



Reik na die sterre

Die adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, Nathalia /Goagoses, het gesê die regering moet deur middel van agentskappe soos die NHE en plaaslike owerhede, voortgaan om beleggings te prioritiseer om gedienste grond en behui­sing te voorsien.

Sy sê die spesiale fokus moet wees op die behuisingsbehoeftes van lae-inkomsteverdieners en diegene wat in informele nedersettings woon.

“In vergelyking met die nasionale aanvraag en agterstand in behuising, dink ons dalk die 72 huise wat op Karibib oorhandig is, is gering. Dit mag so wees, maar ons moet trots wees op die verskil wat ons maak in die lewe van die mense wat daardie huise gaan beset,” het /Goagoses gesê.

Sy sê die vermoë om meer huise te lewer, sal van die beskikbaarheid van gedienste grond afhang.

“Ek doen dus 'n beroep op plaaslike owerhede om voort te gaan om meer grond te diens en om die voorsiening van bekostigbare grond aan die NHE vir inisiatiewe vir laekostebehuising te prioritiseer. Kom ons doen ons deel om regeringspogings te ondersteun om haweloosheid te beveg deur die voorsiening van huise wat vir die meerderheid van ons mense bekostigbaar is.”

Die NHE het op 18 Oktober 40 huise op Okakarara oorhandig en sal op 12 November ook huise op Keetmanshoop oorhandig.